ToekomsVenster: Loof die Here vir sy onuitspreeklike genade

wolke-lug-hemelruim

Foto: Tom Barrett/Unsplash.com

Oorweeg dat jy buitegewoon bevoorreg en begenadig is en was die afgelope jaar en dat selfs terugkyk nie almal beskore is nie.

Die feit dat jy hierdie oordenking saam met my oorweeg beteken dat jy waarskynlik een van ʼn klein persentasie baie bevoorregte mense in Suid-Afrika is. Daarmee wil ek nie suggereer dat dit met jou veel anders gaan as met die meeste mense wat dit al moeiliker vind om finansieel en andersins te oorleef in Suid-Afrika nie. Lewenskoste het die hoogte ingeskiet en dit is vir baie ʼn stryd om by alles by te kom.

Tog is dit nie onwaarskynlik dat jy wat na my luister geseënd is met minstens een motor, ʼn woonplek en ʼn betrekking wat ʼn inkomste verseker, waarskynlik verskeie vorme van versekering wat medies, lewens- en gebeurlikheidsversekering insluit, om maar ʼn paar dinge te noem. Jy eet van tyd tot tyd met jou geliefdes of vriende uit, neem ʼn vakansie en selfs ʼn blaaskans van tyd tot tyd, jou kinders is in goeie skole en het die geleentheid om op verskeie terreine talente te beproef en te ontwikkel.

Jy is dalk selfs bevoorreg om ʼn neseiertjie vir onverwagte uitgawes te hê of ten minste by die bank aan te klop vir hulp. Jy het kredietkaartfasiliteite en leef waarskynlik ver bokant jou vermoë. Die lewe het gedurende die jaar aan jou merkwaardige geleenthede gebied. Jy kon verryk word in kennis en ervaring, stokperdjies beoefen en persoonlik ontwikkel. So kan ʼn mens aangaan.

Hierdie voorregte moet ʼn mens diep dankbaar stem en nie arrogant en aanstellerig maak nie. Vir die meeste mense is selfs die heel basiese nie beskore nie. Nagenoeg 17 miljoen mense is afhanklik van staatstoelaes. Woonbuurte is dikwels onversorg en misdaadtonele. Kinders vermaak hulself in die strate met enige iets wat hulle in die hande kan kry. Van gesond eet is daar nie sprake nie en aanvullings is ʼn woord wat hulle nie ken nie.

My bedoeling weereens is nie skuld nie. Loof die Here dat Hy vir jou goed is. Hy is immers ons Vader. Aan die anderkant besef dat jy deel van ʼn minderheid is. Moenie so gou wees om skuld uit te deel vir ander se ellende nie. Wat het kinders met die sondes van hul vaders en moeders te doen? Staan ʼn oomblik stil en loof die Here vir sy onuitspreeklike genade.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.