ToekomsVenster: Luister beter

luister-na-God

Argieffoto.

Iemand wat ’n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. – Spreuke 18:13

Konflik is deel van die lewe alhoewel ek persoonlik daarvan af weg skram. Dit veroorsaak spanning en daarvan het ek in my kort lewetjie meer as genoeg gehad.

Die hele samelewing smaak dit my balanseer op ʼn mespunt. Mense is kortgebonde, selfs kwaad. Dit was ʼn baie moeilike jaar, vir almal en sonder uitsondering. Derhalwe moet ʼn mens ekstra sensitief wees wanneer dit by verhoudinge kom.

Om te praat sonder dat jy al die tersaaklike inligting het, is ietwat voortvarend. Dit is ook onbedagsaam en maak mense seer.

Om na iemand anders te luister, ja, end uit te luister, getuig van respek vir daardie persoon se menswees, individualiteit en mening.

Ek is geneig om net so ver te luister as wat dit nodig is om ʼn antwoord te formuleer. Dis nie bedagsaam nie. Ek bely dit.

Hoe kan jy ʼn antwoord formuleer sonder al die feite. Dit kan mos nie. Daarbenewens gee jy ʼn antwoord en mening sonder dat die ander persoon jou gevra het om sy of haar probleem op te los. Tien teen een wou die persoon net gehad het dat jy sal luister, empaties sal luister. Op die manier sou die persoon self by die antwoord uitgekom het.

Dit is veral in huwelike waar mense nie na mekaar luister nie. Dit gee onnodig aanleiding tot spanning. Wie het gesê die Here het vir ons een mond en twee ore gegee. Werk maar self uit wat die relevansie van die skeppingshandeling wou wees.

Die teks help ons.

Luister opreg, meelewend, simpatiek, liefdevol, ja luister soos wat jy wil hê mense na jou sal luister.

Indien jy die draad iewers verloor het, maak verskoning en vra dat die persoon net weer sal herhaal wat hy gesê het. Wees opreg in jou verskoning.

Om te luister kan ingeoefen word. Kontroleer of jy reg gehoor het. “Ek hoor dat jy vir my sê” en dan som jy op wat jy dink die ander persoon gesê het. Op die manier vorder ons met mekaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat ek kan bid….dat ek bely dat ek nie altyd mooi luister nie….help my om eerder te luister as te gou te
praat…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.