So sê die Here: Daar rus ‘n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel… hy is soos ‘n kaal bossie in droë wêreld wat nooit water kry nie; ‘n bossie wat in ‘n klipwoestyn staan, in ‘n brak wêreld waar niemand woon nie. Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel… so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het. – Jeremia 17:5-8
Die Woord van die Here is grafies en verbeeldingryk. As ʼn mens eers die twee beelde van ʼn kaal bossie in die woestyn en ʼn boom wat by water geplant is oorweeg, gebeur interessante dinge.
Jy sien in jou geestesoog die droë woestyn en die moeisame proses van oorlewing wat daarmee gepaard gaan. Die wind waai onheilspellend oor die duine en al wat jy sien is kilometers van onherbergsaamheid.
Hier en daar waag ʼn bossie dit om van die woestyn ʼn woning te maak maar, dit is moeisaam en hard.
Die bossie oorleef skaars te midde van wat die Bybel ʼn verskroeide woestyn en soutvlaktes noem.
In oorganklike sin mag jy vandag daarmee resoneer en voel dat dit ʼn metafoor is vir jou bestaan tans. Dit is inderdaad hartseer en ver verwyderd van God se bedoeling vir jou lewe.
Die tweede voorbeeld is aantreklik en energiek. In jou geestesoog sien jy die boom wat by die water, desnoods ʼn pragtige kabbelende rivierstroom. Wilgerbome word mos met waterryke plekke assosieer en ek is seker dat jy net so meegevoer word deur ʼn lowergroen wilger waarvan sommige takke in die water hang en die sagte beweging van die wind jou uitnooi om in sy skadu te rus. Piekniek hou onder so ʼn boom is ʼn heerlike vooruitsig en bring rustigheid en vervulling.
Twee beelde vir twee soorte mense.
Die een se vertroue is in homself, sy eie vermoë maar ook in ander raadgewers en vertrouelinge. Uiteraard is daar geen fout te vind met gedagtes wissel met ander oor belangrike besluite wat jy moet maak nie. Daar is spesialiste wat jou in jou besluitneming kan ondersteun deur waardevolle inligting te verskaf.
As ʼn mens egter besluit om God, sy Woord en die beginsels wat daarin vervat is, blatant te ignoreer kan jy niks anders as ʼn fiasko verwag nie.
Daarteenoor mense wat die Here van hemel en aarde, Skeppergod en Verlosser in alles, dag vir dag, weliswaar oomblik vir oomblik, deel maak van hul lewe. Die effek van so ʼn lewenshouding is baie duidelik uit die beeld van die boom by waterstrome geplant.
Jy kan steeds besluit om God ʼn integrale deel van jou lewe te maak.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
Dankie Here dat ek by U skuil…..lof ,dank en eer kom U alleen toe