ToekomsVenster: Maak Jesus die fokus

bid-vrou-son-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Al wat ek wens, is om Christus te ken. – Fil. 3:10

In aansluiting by gister se gedeelte, verklaar Paulus dat Jesus die fokus van sy lewe is. Om Jesus te ken is veel meer as ’n intellektuele oefening. Dit is om te sê, “ek weet van Jesus”. Ken en weet is twee verskillende sake.

As jy vandag getroud is “weet” jy nie van jou lewensmaat nie, jy ken hom of haar, trouens, dit is die ideaal nie waar nie. Daarby word ’n mens se kennis van jou geliefde verbreed, verinnig en verryk.

Niemand is ’n oop boek nie. Mense is net te kompleks, interessant, onvoorspelbaar en veranderlik dat iemand ooit kan sê dat jy iemand anders “deur en deur” ken.

God kan dit van mense sê. Hy ken ons deur en deur. Die bekende Ps. 139 getuig daarvan, nie waar nie. Selfs nog voordat daar ’n gedagte by ons opgekom het, weet Hy reeds wat dit gaan wees.

Dit is bevrydend om eerlik, ja soos ’n oop boek voor Hom te lewe. Om geheime te hê en te dink dat ons Hemelse Vader nie daarvan weet nie, is wensdenkery. In elk geval, waarom sou ’n mens iets vir Hom wou wegsteek?

Wat ander mense betref, is dit anders. Ons praat nie altyd oor die dinge wat in ons harte omgaan nie, ongeag hoe goed ander ons ken. Daar is ’n ruimte waar God en ek ontmoet. Dit is ’n privaat, verborge en kosbare spasie.

Paulus vertel daarvan. Dit is in die teenwoordigheid van sy Here dat hy nie net homself kan wees nie, maar ook al hoe meer bekend gestel word met die grootheid, andersheid, almag, liefde, genade, omgee, grasie van sy Hemelse Koning.

Ons verhouding met die Here is eg persoonlik. Dit werk nie om voorskriftelik te probeer wees oor hoe mense God drie-enig moet beleef nie.

Niemand leef met God in Christus Jesus saam soos ek in my persoonlike omgang met Hom en Hy met my nie. Jy sal weet of daar groei in die verhouding is. Soek daarna.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. – Spreuke 3:6

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir Ps 139….U almag ken geen perke nie….U is nader aan my as my eie skaduwee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.