ToekomsVenster: Maak klaar met gister vir ’n gelukkiger lewe

gras-en-dou

Foto: Jonas Weckschmied/Unsplash.com

Hoe gaan dit (regtig) met jou? Is jou buitekant ʼn ware refleksie van ʼn binnekant wat gesond en vervuld is?

Die lewe maak seer. Ons leef immers in ʼn stukkende wêreld waar die nawerking van die sonde steeds duidelik is. Jesus het ʼn volmaakte prys betaal en ʼn koninklike priesterdom vir God losgekoop. Wie glo het deel aan hierdie nuwe skepping. Immers, die Bybel sê alles het nuut geword. Die ou dinge het verbygegaan. Tog is die Koninkryk van God nog nie in volheid sigbaar nie. Dis nog stukkend rondom ons.

Ons leef dikwels gemasker ten einde in hierdie wêreld te oorleef. Ons het nie altyd vrymoedigheid om ander in ons vertroue te neem en te vertel wat aan die binnekant aan die gebeur is nie.

Dinge wat ander jou toegesnou het, het in jou hart woning gemaak. Onvriendelike opmerkings oor jou menswees het seerplekke veroorsaak. Gesag- en vertrouensfigure wat jou tot volwassenheid moes begelei, was skreiend afwesig. Jou privaatheid is geskend en jy dra die littekens van ʼn verwonde mens. Jy het jou vertroue in die mensheid verloor en twyfel selfs daaraan dat God regtig ʼn Vader vir jou wil wees.

Wat sal die mense van my dink as ek eerlik is daaroor? Sal hulle nog van my hou? Sal hulle agteraf stories dra? Daarom dra ek eerder alleen aan my seer en sorge sonder om ooit gesond te word.

Iemand het gesê, geen kennis van God sonder kennis van die self nie. Jy skuld dit aan jouself, doen wat nodig is om van die onnodige bagasie ontslae te raak. Wees eerlik oor jou hangups en worstelvrae. Begin die pad van heelwording loop al vat dit soms baie lank. Daar is mense wat kan en wil help.

Hoe vorentoe? Prioritiseer jou eie heelwording. Niks is belangriker nie. Jy skuld dit aan jouself. Jy skuld dit aan jou naaste naastes. Jy skuld dit aan die wêreld.

Psalms 6:3 – Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg, maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kornel ·

So waar, ons moet die DOEL in ons lewe vind. God het ons geskappe om Sy doel te vervul op aarde. As jy Sy weg volg, sal jy ook gelukig wees. Here wil he dat ons gelukig moet wees.
Maar dit is elkeen se keuse om Hom te volg. So wat gaan jy kies vandag?

Dankie Here dat U na my toe gekom het om my te help. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.