ToekomsVenster: Maak oop jou gebalde vuis

Foto: Pixabay

“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het.” – Psalms 8:2 (AFR83)

Psalm 8 vra ʼn belangrike mens: “wat is die mens?”. Die digter gaan dan voort om die mens se waarde te besing. Net minder as ʼn goddelike wese, met eer en heerlikheid gekroon, vertel hy. Heerser oor God se handewerk, onder opdrag en bevoorreg om as God se ambassadeur in hierdie wêreld op te tree.

Dan weer verwys die vraag na die kleinheid en geringheid van die mens. Jesaja getuig daarvan – die nasies gesamentlik maak geen impak op ʼn skaal nie. Ons is gering, weglaatbaar en tydelik.

Arrogansie kenmerk die tydsgewrig waarin ons leef. Mense leef met ʼn aanstellerigheid wat sê: “Die lewe skuld my, ander skuld my, God skuld my”.

Ons sê dit nie noodwendig nie, maar ons lewens wys dit.

“Hoe dan anders, die Here het mos gesê Hy sal na my kyk.

Ek kan dink, doen en sê wat ek wil, Hy staan gereed om my elke behoefte aan te spreek soos in Psalm 23.

Hy sal ook ʼn keur maaltyd voor my uitpak sodat ek kan smul aan sy goedheid en guns.

As Hy dit nie doen nie, is Hy onregverdig, onbetroubaar, moedswillig en onredelik”.

Ons sê dit nie, maar ons dink dit: “Hoe durf God my hierdie ongemak laat beleef. Ek doen my deel, ek bid en lees en kom by die kerk uit. Aan my kant is regmerkies aan die orde. Die lysie is nagegaan en ek vergelyk baie goed, inteendeel, veel beter as die gemiddelde Christen rondom my. Hulle oënskynlik geniet die guns van God, maar Hy weerhou dit van my. Ek is nie meer so seker dat ek nog so baie van Hom hou nie.  Hy moet rekenskap gee waarom ek aan die korste end, altyd aan die kortste end, trek”.

Die feit is:

  • Die lewe is stukkend, gebroke, voorlopig, onderhewig aan die uit- en nawerking van die sonde. Sonde is vernietigend en ons sien daagliks hoe dit mense se lewens verwoes.
  • God is liefde en bewys dit in die besonder aan die kruis van Golgota waar Hy, die sondelose, vir die skuldbevlekte mens die offer bring.
  • God skuld my niks, maar ek kan reken op sy liefde en getrouheid.
  • Ek skuld God alles, is deur Hom geformeer en per sy guns op aarde.
  • Opstandigheid, ongeag dat God dit verstaan en vergewe as ons dit bely, is ʼn mosie van wantroue in God en sy beloftes. Dit moet bely word.

NT Wright sê dat as die hand soos ʼn vuis na God uitgesteek word, vol verwyte, opstandigheid, arrogansie, kwaad en verwyte, God niks daarin kan plaas nie. Dit is eers wanneer ʼn mens van jou opstandigheid ontslae raak, dat die hand oopgaan en die Here sy liefde daarin kan deponeer.

Maak oop daardie gebalde vuis. Dit bring jou nêrens nie. Dit is arrogant en onvanpas in die lewe van ʼn gelowige.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.