ToekomsVenster: Maak plek vir buitestaanders


drukkie-kyk-goed-na-ander

Argieffoto.

My siekte hou my familie en my vriende ver van my af en my bure kom nie naby my nie. – Lees Psalm 38:12

Dis duidelik dat die psalmdigter ‘n rowwe tyd beleef.  Hy is nie alleen fisiek siek nie, hy is emosioneel en geestelik oorlaai en uitgemergel.  Hy beskryf sy bedenklike toestand met metafore en beelde wat iets van die intensiteit van sy belewenis aandui.

Die feit dat hy klaarblyklik aandadig is aan sy vervalle toestand word deur verskeie verse onderstreep, lees maar self.

Wat my in die hart gryp is die vereensaamde mens wat hy geword het.  Sy eie mense, sy huisgesin het hom die rug toegekeer.  Ook daar is hy nie meer welkom nie.

Die kerk is ‘n tuiste vir gewonde, stukkende en mistroostige mense, ongeag die rede en agtergrond van hul gebrokenheid.  Ons is in geen posisie om oordele te fel en vonnisse uit te deel nie.  Ons het almal dieselfde agtergrond, sondaars wat uit genade gered is.

Alhoewel hy hier sy siekte as die rede vir sy vereensaming aandui, dalk iets soos die gevreesde melaatsheid van Bybelse tye, wil ek tog waag om te sê dat dit in oordragtelike sin ook waar mag wees van ons as geloofsgemeenskappe.

Ons maak groepies van enersdenkende mense, broei mekaar heerlik warm, vier ons heiligheid trots en kyk neer op buitestaanders.  Vreemdelinge is verdag en nie welkom nie.  Kyk maar hoe eensaam mense rondom die kerk staan.  Mense kuier met bekendes en ignoreer vreemdelinge.

Is daar binne jou verwysingsraamwerk plek en ruimte vir buitestaanders, ook vir mense wat nie van jou groep is nie.

Is jul gemeente ʼn vriendelike plek, waar veiligheid en warmte uitgestraal word?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.