ToekomsVenster: Maak versoening moontlik


all-free-download.com

all-free-download.com

2 Korintiërs 5:16 Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer nie. Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

Inkarnasie maak versoening moontlik. God het die onmoontlike moontlik gemaak – Hy het toegelaat dat Christus Sy Godheid en mensheid een maak. Hy het toegelaat dat Christus aan die kruis sterf. Hy het Christus uit die dood opgewek. Deur dit te doen het hy die boosheid en die dood oorwin. Hy kan wonderwerke laat gebeur, Hy kan die onmoontlike moontlik maak. Hy kan vyande weer laat vrede maak of mense help om te vergewe. Hy kan gebroke verhoudings weer herstel (versoen) sodat hulle kan aangaan. Hy kan deur sy inkarnasie mense help om weer met mekaar te praat.

Omdat ons iets van die “godheid” in ons het, kan ons verhoudings ook beskryf as ’n mistiese of geheimsinnige handeling wat gebeur wanneer een mens na ’n ander mens uitreik om te help. Jy sal saamstem dat daar partykeer iets tasbaars moois is as mense mekaar help, of dit by die sportveld, hospitaal of kerk is.

Ons lees ook dat van die sielkundiges en psigiaters beweer dat die meerderheid van emosionele en geestelike swaarkry voorkom by mense wat ’n gebroke psige het en ook mense wat nie connected is nie. Die veronderstelling is dat, wanneer twee mense connect, daar op ’n bepaalde vlak iets gebeur. Dalk gaan daar iets misties van die een na die ander wat ons kan beskryf as ’n krag en wat die ander se siel genees en van sy diepste wonde heelmaak.

Versoening en verandering word moontlik gemaak deur Christus wat mens geword het.

Gebed:

Vader ons reageer soms te skerp in ons gedagtes en woorde teenoor mense wat van ons verskil. Ons bely dit voor u. Amen.

Leefwyse:

Dink aan iemand van wie jy verskil – wil jy nie moeite doen om die verskille op te los nie? Maak ’n oproep of stuur ’n sms. Ek weet dat jy nie alles net kan vergeet wat dalk met jou gebeur het nie. Vergifnis en versoening beteken dalk vandag dat jy jou hande figuurlik van die ander se nek sal afhaal en vrede sal maak.

Iets om vandag oor na te dink:

Versoening is nie net iets mooi wat ons in die Bybel lees nie; dit is ook ’n gawe wat Christus gegee het. Hy het mense se lewens verander sodat hulle verhoudings kan herstel. Hulle kan weer versoen. Wat dink jy kan jy doen om versoening in jou gemeenskap te versterk.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.