ToekomsVenster: Mag dit met jou goed gaan

sonsopkoms_wolke_nuwe-dag_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Geliefde vriend, ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan. – 3 Johannes 1:2 NLV

Teen hierdie tyd weet jy dat ek ʼn  trotse oupa is van sommer ʼn hele klomp kleinkinders. Ek en my ander helfte beskou dit as ʼn enorme voorreg en ons speel die kinders gedaan.

Ons huis is op twee vlakke gebou en ten einde “bo” by die leefkamer uit te kom moet jy noodwendig die trappe aandurf. Meeste van die outjies is nog bitter klein en Oupa het die gewoonte (wat nou al in ʼn gespot ontwikkel het) om verskeie kere wanneer een van hulle die trappe aandurf hardop te vra: “Nihan, Lunamae, Jossie, is jy ok?”

Luidrugtig word daar geantwoord: “Ja Oupa, ek is ok”.

Somtyds kom hulle agter Oupa is nou sommer moedswillig wanneer hulle sal sê: “Ag Oupa!” So oulik en onnutsig is die klomp dat wanneer oupa die trappe gebruik hulle uitroep: “Oupa, is jy ok?”

My vraag aan jou vandag is: is jy ok?

Dit is soos die vraag, “hoe gaan dit met jou?” waarop jy sonder om te dink antwoord, “goed dankie en met jou?”

Waag dit ʼn volgende keer om ʼn tweede keer te vra, “hoe gaan dit regtig met jou?” en moenie verbaas wees as daar trane in daardie persoon se oë kom nie.

Die meeste mense is onder ontsettende druk en Suid-Afrika maak dit nie makliker nie. Kontekste verskil en presies wat dit is wat jou ietwat ontsenu of omkrap is aan my onbekend.

Jou eerste reaksie is om die vraag te ontduik. Ons voel uitgelewer, voel of ons ontklee staan voor ander mense sou ons waag om te sê dat ons nie so goed voel oor onsself, ander, die wêreld en selfs God nie.

Eerlikheid kos iets maar dit is die enigste manier waarop ʼn mens groei.

Om nie ok te wees nie is nie ʼn skande nie, dis menslik. Niemand gaan minder van jou dink as jy dit erken nie en sou hulle dit nodig vind om jou te bespreek, is hul vriendskap van min waarde. Feit van die saak is dat die meeste mense jou broosheid met heilige sensitiwiteit sal hanteer en bevoorreg sal voel dat jy hulle in jou vertroue geneem het.

Uiteraard beklae ʼn mens nie jou lot by elke mens wat jou pad kruis nie. Opregte vriende, ʼn betroubare kollega, jou dominee of pastoor, jou lewensmaat of terapeut.

Praat net met iemand.

Ek neem vrymoedigheid om jou te vertel van ʼn een dag seminaar wat ek op 18 Februarie in Krugersdorp aanbied.

Dit sal gereedskap gee waarmee jy met jouself en ander op reis kan gaan. Die seminaar sal jou binne ʼn uiters veilige atmosfeer met ʼn verwysingsraamwerk toerus wat enorme waarde aan jou lewe sal toevoeg.

Is jy ok?

Dis 2023. Belê een dag in jou eie emosionele en geestelike gesondheid. Jy sal nie spyt wees nie.

Stuur ʼn Whatsapp-boodskap aan Jannie by 083 601 9094 of skryf aan [email protected] vir meer inligting oor die seminaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Dankie Jannie. Doen bietjie eendag Openbaring 21:8. Sou eintlik goed saam met verlede week se “vertroue” gedeeltes gegaan het. Vreesagtiges en ongelowiges staan langs mekaar, laat jou maar klein voel veral as jy in die noute is.
Nee toemaar Jannie, ek lees in dr Thinus Du Plessis se Obenbaring Bybelstudie die “vreesagtiges” is diegene wat hulle vir die Here en Sy sake geskaam het tydens hulle lewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.