ToekomsVenster: Mag julle lig skyn

Spekboom (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” – Matteus 5:16

My kollega ds. Wimpie Wasserman het aan ʼn unieke projek gedink. Elke gemeentelid het ʼn steggie van ʼn spekboom (Portulacaria Afra) ontvang wat tuis geplant moes word. Maande later moes die ontwikkelende plantjies, nou goed gevestig, terug gebring word “kerk” toe sodat dit in massa in die tuin daar geplant kon word. Die pandemie se inperkings het die projek ietwat gekortwiek maar Wimpie het tog daarin geslaag om plate spekboom reg rondom die gemeente se kompleks te plant. Dit sorg vir ʼn pragtige vertoning maar dien tegelyke tyd as ʼn lewende metafoor vir hoe die lewens van kinders van die Here daaruit moet sien. Ek wil hierdie week ʼn paar gedagtes deel met verwysing na die merkwaardige kenmerke van die wonder plant.

Die spekboom kom veral in die Oos-Kaap voor en is droogte bestand. Dit groei tot ʼn lieflike struik of klein boom. Die blare is grysgroen en baie gewild onder veral olifante.

Daar is pragtige foto’s en baie interessante artikels oor dié plant op die internet beskikbaar. Ek wil vandag verwys na die buitengewone vermoë wat die plant het om die lug te suiwer.

Dit is bekend dat plante koolsuurgas absorbeer en suurstof vrystel. Die spekboom se vermoë om die giftige gas uit die atmosfeer te absorbeer is verstommend. Die plant absorbeer sonenergie en gaan selfs as dit donker is voort met fotosintese.

Ons wêreld, ja ook ons land steier onder toksiese invloede. Die wyse waarop mense met mekaar omgaan is kommerwekkend. Soveel verhoudings raak stukkend en tot so ʼn mate dit net ʼn wonderwerk dit kan genees. Min bewandel egter die pad van afhanklikheid en dryf uiteindelik uitmekaar.

Spanning van allerlei aard is aan die orde van die dag. Polities, maatskaplik en ekonomies is dinge in ʼn harwar. Tensy Christene soos die spekboom deur gebede, getuienis, lewe en voorbeeld die slegte in die samelewing neutraliseer en lewegewende suurstof vrystel het ons geen kans nie. Die Heilige Gees stel ons daartoe in staat. Ongelukkig is selfs Christene so vergiftig deur die atmosfeer wat heers dat hul getuienis skade lei.

Mag ons in hierdie dae ons roeping stewig vasmaak en, soos ‘n spekboom lewegewende suurstof vrystel, wat deur die Gees geïnspireer is, sodat ons omgewing genees kan word.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.