ToekomsVenster: Maklike antwoorde kan seer maak

Bybel

(Argieffoto)

Ons gaan gedurende hierdie week aandag gee aan die sogenaamde “Fourfold Franciscan blessing” geskryf deur ʼn Benediktynse suster Ruth Fox van Sacred Heart Monastery vir ʼn gradeplegtigheid in Dickinson State University in 1985. Die Afrikaanse verwerking is deur dr. Johann Voges.

Ons gee elke dag aandag aan een van die bedes. Vandag se stukkie lees as volg:

Mag God jou seën met ʼn onklaarkomstigheid oor maklike antwoorde, halwe waarhede, en oppervlakkige verhoudinge… sodat jy in liefde altyd by die waarheid sal bly …

Maklike antwoorde maak seer, baie seer. Toegegee, mense wat maklike antwoorde gee probeer net help, ervaar waarskynlik  ʼn ongemaklikheid met die situasie en weet nie regtig hoe om daarop te reageer nie.

Voorbeelde van maklike antwoorde is “Jesus het die mooiste blommetjie vir sy tuin gepluk” wanneer byvoorbeeld ʼn kind aan die dood afgestaan word of “jy is spesiaal uitgekies om hierdie swaar las te dra”.

Ruil die rolle om en vra jouself af of die opmerking, weereens goed bedoel jou sou troos. Voorbeelde is legio.

Die vraag is dus hoe tree ʼn mens op in ʼn situasie waar jy met die onverstaanbare en koue werklikheid van die lewe gekonfronteer word?

Jy bereik veel meer deur net teenwoordig te wees, praktiese bystand te verleen soos om kos vir familie en vriende aan te dra of naasbestaandes te skakel. Jy help deur kinders by die skool te besorg of te gaan haal en te sorg dat hulle by buitemuurse afsprake uitkom. Jy kan aanbied om familielede by die lughawe op te tel of met die motor te gaan haal.

Daar is baie moontlikhede en as daar niks is wat nodig is nie, sal jou vertroostende en simpatieke teenwoordigheid baie troos bring.

“Ek verstaan ook nie” is ʼn eerlike manier van op vrae te antwoord of kontak te maak met iemand wat die getraumatiseerde kan besoek.

Bybelversies uitdeel is uiteraard gepas maar wees versigtig vir die verkeerde versie op die verkeerde tyd. Onthou die betrokke persoon kry reeds swaar. Versies wat die suggesties van skuld, sonde en verkeerd bevat, troos nie. Dit vererger die pyn.

Gooi ʼn draai by jou naaste Christelike boekwinkel en kry ʼn boek wat met die spesifieke situasie te doen het. Dit is gewoonlik goed nagevors en sal die betrokke persoon oor die langduur troos en bemoedig.

Onthou, hierdie is nie ʼn poging om jou te ontmoedig om ander mense te troos en by te staan nie, veeleerder ʼn bietjie bewus maak van die soort hulp en ondersteuning wat gepas mag wees.

Dankie dat jy omgee maar maklike antwoorde, is nie die oplossing nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.