ToekomsVenster: Medelydende gesag in goeie en slegte tye


vertroosting

Argieffoto.

Rom 12:15: Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.

1 Kor 12:26: As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.

Henri Nouwen skryf dat ons dink dat mense in gesagsposisies ver weg is en moeilik is om te bereik. Hulle is hoër as ons. Dit is nie die regte manier om oor geestelike gesag te dink nie. Egte geestelike gesag kom tot stand wanneer ons medelye met mekaar het. Dit word gebore uit ’n diepe innerlike solidariteit met hulle wat aan gesag onderworpe is.

Hierdie medelye word in die verse hierbo duidelik beskryf. In die kerk van Jesus Christus is daar nie ’n eerste en laaste nie. Ons is deel van die liggaam van Christus. Elkeen het sy of haar funksie. Soms moet sommige mense leiding neem en gesag uitoefen. Dit beteken egter nie dat ons die hoof van die liggaam word nie. Christus is die hoof. Ons bly aan Hom gehoorsaam en volg die impulse van sy Gees.

Wanneer jy jou toon stamp of ’n lekker soet koeksister eet, stuur jou brein ’n impuls na jou liggaam wat jou pyn of genot laat ervaar. Jy kry seer of dis lekker! As ons hierdie beeld in gedagte hou, maak Paulus se woorde sin. As een lid seerkry, word die hele liggaam geraak – ook hulle wat leiding neem en gesag uitoefen.

Die liggaam kry seer wanneer iemand ’n geliefde verloor. Die liggaam kry seer wanneer lede se huwelik tot niet gaan, kinders gemolesteer word, iemand met kanker gediagnoseer word en wanneer iemand sondig. Dit verhoed die liggaam om behoorlik te funksioneer. Ons staan dan met medelye by mense wat dit veroorsaak het omdat ons sondaars soos hulle is. Ons wys hulle tereg en moedig hulle aan om tot bekering te kom en die sondige lewenswyse te laat staan. Ons staan by hulle wat slagoffers is, omdat ons Heer naby die mense is wie se harte gebreek word. Hulle pyn word ons pyn.

Die liggaam ervaar genot wanneer een van die lede vreugde ervaar. Die Heilige Gees vul ons soms onverwags met ’n gawe wat tot groot seën vir die liggaam van Christus is. Wanneer die liggaam deur hierdie gawe geseën word, is almal bly. Ons verheug ons oor mense wat die gawes van die Gees in diens van die gemeente gebruik. Ons laat hulle nie trots word nie, want dis die gawe van die Gees. Ons probeer egter nooit die energie wat die Gees in die gemeente vrystel onderdruk nie!

Ons is medelydende mense – in goeie en slegte tye – want ons volg die impulse van die Hoof van die kerk, Jesus Christus. Hy laat ons treur saam met die wat treur. Hy maak ons bly saam met mense wat vreugde ervaar. Dit is medelydende geestelike gesag!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.