ToekomsVenster: Medelye met medegelowiges in verdrukking


stryd-met-sonde

Foto: Edchoy.com

Heb 13:3: Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

Ingroei toonnaels is pynlik. Mens kan nie behoorlik stap nie. Soms moet die dokter dit uithaal of selfs permanent verwyder. Sommige kerke en gemeentes ly soms aan hierdie siekte. Die pyn aan hulle eie liggaam is so groot dat hulle moeilik medelye met die pyn van Christene buite hulle kring kan hê.

Dis duidelik dat die Christene aan wie die Hebreërskrywer skryf moeilike tye ervaar het. Hy herinner hulle aan die tyd toe hulle ‘n groot stryd ervaar het omdat hulle Christene was (10:32-44). Die pad was lank en swaar. Hierdie stryd was nie net op ‘n emosionele en geestelike vlak nie. Hulle het dit aan hulle lyf gevoel. Hulle is beledig en openlik bespot. Hulle het hulle besittings verloor. Dit sou baie gemeentelede emosioneel en finansieel gebreek het. Hulle sou maklik net op hulle eie pyn kon konsentreer.

Tog lees ons in hierdie verse dat hulle medelye nie plek gehad het vir selfbejammering nie. Daar was ‘n gesindheid van medelye teenoor mense rondom hulle wat dalk buite hulle onmiddellike kring was. Hulle het deels gely ‘omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad’ (10:33,34). Hulle het by mense gestaan, met mense geassosieer wat dit moeilik gehad het. Hulle het medelye met hulle gehad soos die Hoëpriester medelye het met mense se swakhede (Heb 4:15).

Daar is min gemeentes wat nie probleme ervaar nie. Dis goed wanneer gemeentelede mekaar in moeilike tye bemoedig, ondersteun en dra. Ons moet egter van die ingroei toonnaels ontslae raak, want ons kan die res van die liggaam van Christus op aarde maklik uit die oog verloor.

Natuurlik moet ons die siekte van ons eie liggaam behandel. Tegelykertyd moet ons ook die pyn van ons broers en susters naby ons en ver van ons af wat ter wille van die evangelie ly, ter harte neem. Christene in Noord-Korea, Iran, Nigerië, Sirië, Pakistan en baie ander plekke ly fisies. Christene in die Westerse wêreld verloor hulle lewensonderhoud omdat hulle sekere standpunte in ‘n sekulêre omgewing inneem. Hulle word hof toe gesleep.

Ons medelye word gesien as ons vir hulle bid. Ons moet geld gee sodat hulle kan lewe of oor begin. Ons moet hulle gaan besoek as dit moontlik is. Ons moet vir hulle regte opstaan. Ons moet hulle advokate in die samelewing word. Immers, as een lid van Christus se liggaam ly, raak dit die res van sy kerk hier op aarde. So help ons nie net ander om te volhard op die reis saam met God se mense nie, maar bly ons self op die pad (10:35,36).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.