ToekomsVenster: Medelye met sondaars


vriende-01

Foto: Playbuzz.com

As iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy hartseer maak nie, maar vir julle almal, of, om nie te oordryf nie, ten minste ‘n deel van julle. Vir so iemand is die bestraffing deur die meerderheid swaar genoeg. Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom. – 2 Kor 2:5-8

Ek het verlede week afgesluit deur na te dink oor die doel waarom ons na mekaar moet omsien.

Die geloofsgemeenskap het die taak om vir mekaar verantwoordelikheid te neem. Ons kan nie die houding van Kain inneem deur te sê dat ons nie ons broer se wagter is nie.

Die manier waarop ons na mekaar omsien kan egter baie negatiewe gevolge hê. As ons na Paulus se woorde aan die gemeente in Korinte kyk, is hy besorg oor iemand wat oortree het. Ons is nie seker wie die persoon was nie, maar dit kon iemand wees wat die lewe vir Paulus moeilik gemaak het. Uit die verse kan ons egter aflei dat nie net Paulus nie, maar ook die gemeente onder die optrede van die persoon gely het. Hierdie persoon is duidelik deur die geloofsgemeenskap formeel gedissiplineer. Ons kan sê dat kerklike tug op hom toegepas is. Geen aanduiding word gegee wat sy reaksie was nie, maar sommige kommentatore sê dat ons moet aanvaar dat die persoon wel met bekering op die dissipline gereageer het.

Staan in die skoene van die man waarna Paulus hier verwys. Die meerderheid van die gemeente het hom tereggewys. Hy is gekritiseer vir sy optrede. Hy moes sy gesig in die openbaar tussen hierdie mense wys. Hoe sou jy gevoel het?

Paulus sê dat daar grense is wanneer ons mekaar dissiplineer. Ons kan sonde nooit aanvaar nie. Dis hoekom daar iets soos tug in geloofsgemeenskappe bestaan. Ons kan hulle egter breek, laat moed verloor wanneer ons nie die saak afhandel nie en aanhou om die verlede op te haal. Paulus vermaan die gemeente om hierdie persoon nie te breek nie, maar lief te hê, te vergewe en te bemoedig. Dit veronderstel dat die gemeente iets formeel moet doen om hierdie oortreder weer op te neem in die gemeenskap – net soos die vergewende pa met die verlore seun gedoen het. Die proses is afgehandel en ons moet nou vorentoe beweeg!

‘n Geloofsgemeenskap is primêr ‘n helende gemeenskap. Dis waar mense opgebou en herstel word. Elkeen wat verkeerd opgetree het, moet ervaar dat liefde die beginsel is wat alles oortref. Liefde is al wat ‘n stukkende mens kan herstel. Paulus is bekommerd dat die oortreder oorweldig sou word, sou verdrink in hartseer.

Daar is dus twee moontlikhede binne die geloofsgemeenskap. Ons kan die eer van die sondaar  beskerm en daardeur ook die eer van God. Die ander moontlikheid is om die persoon wat verkeerd opgetree het te marginaliseer, eenkant toe te skuif. Dis die verskil tussen die gemeente as bemoedigende gemeenskap en die gemeente as ’n huis waar pyn uitgedeel word. In laasgenoemde geval ontvang God nie die eer nie. Dan het die Satan die oorhand gekry (2:11).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.