ToekomsVenster: ‘Meer as oorwinnaars deur Hom’

(Foto: Catalin Pop/Unsplash)

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons lief het.” – Romeine 8:37 (AFR83)

Wat beteken dit om ʼn oorwinningslewe te leef? Die Bybel sê immers dat ons meer as oorwinnaars is deur Christus wat vir ons die krag gee.

Hoe maak ʼn mens daardie oorwinning deel van jou ervaring?

Ek vermoed dat baie van ons sukkel om die oorwinning, waarvan daar gepraat en gespreek word, ʼn daaglikse werklikheid te maak.

Ons het verlede Donderdag Hemelvaart gevier. Ek kan verstaan dat die dissipels erg ontsteld moes gewees het na Jesus se aankondiging dat Hy gaan vertrek. Hulle bly alleen agter, hulle het reeds huis en haard verlaat ten einde Jesus te volg, nou los Hy hulle net so met ʼn taak en opdrag wat oorweldigend en ondoenbaar voel.

Geen wonder dat die dissipels na die kruisiging en begrafnis van Jesus besluit om terug te keer na dit wat vir hulle bekend is.

Ons gaan visvang, besluit hulle, dis bekend, veilig en maak sin.

Die seisoen saam met Jesus is verby. Dit was aangenaam en leersaam, maar is nou verby.

Gelukkig eindig die verhaal nie daar nie.

Die kruisiging word met die opstanding van Jesus in ʼn ander lig gestel.

Die dissipels se aanvanklike twyfel gaan in verwondering oor.

Gestadig word hulle herinner aan Jesus se afskeidswoorde. Wag totdat die Gees julle bemagtig het.

Hemelvaart het geen sin sonder die belofte van die Gees nie. Jesus het duidelik gesê dat dit tot voordeel van die dissipels sal wees dat Hy weggaan.

Die vraag is hoe Hemelvaart en die gebeure daar rondom ons help om, te midde van die vele uitdagings, in oorwinning te leef.

Enersyds leer die Woord ons dat Jesus vir ons intree by die Vader. Hoe dit werk verstaan ek nie, maar dit maak dit nie minder waar nie.

Vandag, hier en nou, het ons ʼn Voorspraak by die Vader.

Daarbenewens wil die Gees van God ons in Waarheid lei en die insig, wysheid, toerusting en onderskeiding gee wat ons nodig het ten einde vandag sinvol, ja, in die oorwinning van Jesus te leef.

Skep moed, jy is ʼn oorwinnaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.