ToekomsVenster: Mense met hoop spoor ons aan


vergewe

Argieffoto.

Heb 6:11,12: Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Klaagliedere 3:25,26: Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.

Ons kry nie altyd mense in ons onmiddellike vriendekring wat ons help hoop nie, maar daar is baie in die gemeenskap van gelowiges – veral hulle wat reeds die reis voltooi het. Hebreërs verwys na die skare geloofsgetuies wat voor ons geleef het (12:1). Hulle voorbeelde is aansteeklik. As ons na die maraton kyk wat hulle voltooi het, gee dit ons die moed om ons reis met volharding aan te pak en voort te sit. Baie van hierdie mense het nie gekry wat beloof is nie, maar met hulle geloofsoë het hulle iets meer gesien as die werklikheid rondom hulle (11:13-16). Alles het hulle geloof en hoop weerspreek, maar hulle het aangehou – Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses en baie ander. Dink aan mense in jou eie lewe. Dalk is dit ‘n pa, ma, oupa, ouma of iemand van wie jy in ‘n boek gelees het. Hulle voorbeelde spoor ons aan!

In Klaagliedere lees ons van mense wat alles verloor het. Die stad is beleër en die omstandighede was absoluut haglik. Dit was so erg dat ma’s hulle eie babas geëet het (2:20). Alles is vernietig. Hulle eer, hoop, vreugde, families, jong mense en die tempel (1:1-10; 2:9-12). Die skrywer se moed is gebreek (2:11).

In die middel van hierdie troostelose boek, lees ons een van die mooiste uitsprake van hoop: ‘Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom’ (Klaagliedere 3:18-22).

Hy volg die voorbeeld van verskeie gelowiges in die Ou Testament wat gehoop het toe daar geen rede was om te hoop nie. Lees gerus die uitsprake van hoop in Habakuk 3:17-19. Dink aan Ps 73:26: ‘Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.’ Dink aan die uitspraak van Paulus in 1 Kor 15:55: ‘Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?’ Kyk wat sê Paulus in Rom 8:35-39. Niks kan ons skei van sy liefde nie – nie die dood, lewe, die hede, toekoms of magte rondom ons nie!

Ons het nie net lewende voorbeelde nodig wat ons inspireer om te bly hoop nie. Ons is ook deel van die gemeenskap van hoopvolle gelowiges deur die eeue. Uiteindelik sal ons saam met mense van elke nasie, stam, volk en taal voor die troon van God jubel: ‘Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!’ (Op 7:9,10).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.