ToekomsVenster: Met gebed bely ons, ons afhanklikheid

oetjie-skulpe-strand-deur-juanita-badenhorst-2018-06

Foto: Juanita Badenhorst.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. – Filippense 4:6

Die saad wat in die Jesus gelykenis gesaai word, val op verskillende plekke. Een deel gaan verlore vanweë die sorge van die lewe. Bekommernis is uitputtend en het die vermoë om ʼn mens se geloofsvertroue te ontwrig. Die lewe soos ons dit ken is nie eenvoudig nie en Suid Afrikaners is bykans vuisvoos van en na alles wat gebeur het. Elke dag het ʼn vars indeks uitdagings en ʼn mens wonder of jou vertroue nog verder geskok kan word.

Dis deurmekaar by ons, daaraan sal niemand twyfel nie. Tog is en bly dit God se wêreld en neem Hy daarvoor die verantwoordelikheid. Jesus aan die kruis is ʼn klinkklare bewys dat God die wêreld nie aan homself oorgelaat het nie maar besorg is daaroor. God is vir ons , wie kan dan teen ons wees. Inderdaad.

Die teks maan ons om oor niks besorg te wees nie. Dis nogal ʼn uitdaging. Bedoel die teks wat daar staan. Niks nie?

Die “alles” in die tweede deel van die teks staan teenoor die “niks van die begin. Alles na God toe bring, word gesê. Dit is opmerklik dat daar nie staan behoeftes nie, maar begeertes. Gelowiges se begeertes is reeds getemper en geheilig vanweë hul verbintenis aan die Here van die Bybel en Koninkryk. Hulle begeerte is geheilig maar is duidelik meer rojaal as behoeftes.

God is ʼn goeie God wat die belange van sy kinders op die hart dra. Watter Vader is daar wat vir sy kind ʼn skerpioen sal gee as hy hom om brood vra, of ʼn slang as hy hom om ʼn vis vra. Inderdaad. God is ʼn goeie God.

Gebed, smeking en danksegging behoort essensieel aan dieselfde betekenisveld. Dit is duidelik taal van afhanklikheid en geloofsvertroue.

Wat gebid word, word verwag, soveel so dat God reeds daarvoor gedank word. Hebreërs leer ons dat geloof is om reeds te sien en in ontvangs te neem wat nog nie bestaan nie.

God weet uiteraard alles. Ons lig Hom nie met respek gesê in omdat Hy nie weet nie. Gebed help ons om ons afhanklikheid te verwoord en aan die Here lof en eer te bring.

“Gebed verander nie die doel van God nie, maar gebed verander wel die dade van God.” ~ Chuck Smith

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.