ToekomsVenster: Missio dei – gestuur saam met Sy kerk


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Matteus 28:19 “Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ons het byeenkomste waar ons saamkom en die plek waar ons dit doen, is in ’n bepaalde gebou of plek waar die gemeente van God bymekaarkom. Koninkryksburgers kom in kerke (geboue) bymekaar.

God stuur nie net individuele gelowiges nie, maar hy stuur ook die kerk (baie gelowiges) om deel te wees van sy betrokkenheid in die wêreld. Die kerk kan nie iets anders wees as ’n instrument wat God gebruik nie.

Omdat dit die plek is waar gelowiges bymekaarkom, verteenwoordig die kerk die heerskappy van God in mense se lewens. Die wêreld kyk na die kerk en sien in die funksionering van die kerk die heerskappy van God raak. Die kerk behoort só te leef dat die wêreld sal vra waarom en wat daar gebeur, want dit lyk of die mense wat by die kerk bymekaarkom, deel is van iets groters as die stryd in die lewe.

’n Gevaar is dat ʼn gelowige kan dink dat sy / haar kerk die enigste plek is waar mense kan inskakel en waarin hulle tuis en gemaklik sal voel en tog weet ons dat dit nie so is nie. Hulle kan dan maklik vertel hoe verkeerd en treurig ander kerke is, maar hoe oulik húlle is.

Ons word gestuur met die kerk waaraan ons behoort.

Gebed:

Hemelse Vader ek wil vandag vir my gemeente bid. Ek wil bid vir die predikante en elke persoon wat help met die administrasie en skoonmaak van ons geboue. Dankie vir hulle werk. Ek wil bid vir elkeen wat ons kerk besoek en vir elke plek waar ons kerk betrokke is. Amen.

Leefwyse:

Doen vandag moeite om met jou predikant kontak te maak. Stuur vir hom / haar ’n boodskap of gaan doen vir hom / haar ’n gebed.

Iets om vandag oor na te dink:

Gaan sit saam met ’n paar gelowige vriende wat saam in jou kerk is. Dink saam oor waar die kerk in julle gemeenskap ’n verskil (kan) maak. Skryf dit neer en nooi dan van die leiers van julle gemeente en herhaal hierdie gesprek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.