ToekomsVenster: Missio dei – nie ’n nuwe “truuk” nie


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Filippense 3:4 Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.

Missio dei is nie ’n nuwe manier of strategie waarmee ons mekaar motiveer om mense wat verlore is, te red nie. Dit is nie ’n nuwe “truuk” om mense in die kerk te kry nie.

Ons hou daarvan om te luister na ander gemeentes se suksesse, want ons wil dit graag by ons ook doen sodat ons ook suksesvol kan wees. Dink maar aan alles wat gemeentes al gedoen het om “suksesvol” te wees. Daar was lank die gesprek oor die belangrikheid van selgroepe, asof dit die enigste oplossing vir die kerk sou wees, toe volg die debat oor sang en orkeste (bands) en daarna was daar die siening om jou geboue so kinder- / familievriendelik as moontlik te bou. Geboue is verander sodat kinders eerder na die kerkgebou toe sou wou gaan as na winkelsentrums.

Missio dei vra dat ons mense sal wees, gestuurdes wat as volgelinge van God in en deur ons geloofsgemeenskappe (kerk) gestuur word om mense in hulle bepaalde woon en werksomstandighede te vertel van God. ’n Gestuurde is dus nie iemand wat spesiaal geroep en gestuur word nie, maar dit is gewone Christenmense in alledaagse beroepe wat die eintlike gestuurdes word wat die draers van die evangelie is. Die gestuurdes, gestuur deur God om in jou daaglikse omstandighede, werk en blyplek lig te wees vir die wêreld. ’n Gestuurde kan dus ’n ouer, onderwyser en vriend wees.

Missio dei vra nie ’n nuwe “truuk” of foefie om mense deel te maak van die Koninkryk van God nie. Dit vra ’n opregte lewe voor God, ’n lewe wat ’n alternatief bied teen die gejaagdheid van die wêreld.

Gebed:

Vader, dankie dat elke gelowige vir U belangrik is. Dankie dat ons as gelowiges kan opstaan en U gaan soek in die wêreld. Daar waar U U liefde en genade uitstort. Amen.

Leefwyse:

Daar is soveel plekke waar ons betrokke kan raak en so die evangelie bring. Buiten al die honger en armoede waarvan ons weet, wat dink jy kan julle as gemeente doen om ’n verskil te maak aan die ekologie, onderwys by die skole of om mense te help met taalvaardigheid?

Iets om vandag oor na te dink:

Die teksvers help ons om te sien hoe mense verskil. Dink aan die maniere hoe jy mense kan bereik. Dink aan goed wat jy gedoen het of waar jy betrokke by was of is. Dink jy dit is “truuks” of dink jy dit help mense om die evangelie te verstaan?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.