ToekomsVenster: Missio dei – om die Koninkryk van God te vestig


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Markus 4:26-32: verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit so: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ’n halm, dan ’n aar en dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”

Hy het ook gesê: Hoe sal ons die Koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soort saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nesmaak.”

Ons word gestuur met die opdrag om te getuig oor die Koninkryk, maar ook om die Koninkryk te proklameer. Jesus doen dit ook wanneer Hy God beskryf as die Koning van hierdie Koninkryk. ’n Koninkryk wat Hyself oor getuig en kom proklameer.

Die Koninkryk bestaan natuurlik nie uit landelike of geografiese grense nie – dit bestaan uit lidmaatskap wat mense in hulle harte saamdra. Omdat dit nie ’n afgebakende land is waar ons Koning gesien en aanbid kan word nie, moet gelowiges mekaar help en bemoedig.

Die Koninkryk het ook nie paspoorte, vlae en ’n volkslied soos wat ons eie land (Suid-Afrika) het nie. Dit het, soos ons reeds beskryf het, ook nie definitiewe geografiese grense nie. Die Koninkryk word beskryf dat dit is soos suurdeeg wat in en deur mense alles en almal aanraak, of soos sout wat keer dat kos laf word. Die Koninkryk is anders en ons lidmaatskap is anders.

Jy word gestuur om hierdie Koninkryk te proklameer.

Gebed:

Vader help my om vandag as volwaardige burger van U Koninkryk te leef. Amen.

Leefwyse:

Vat ’n stuk papier en skryf neer wat jy dink ’n ambassadeur van ’n land alles moet doen. Ons weet dat in jou paspoort die land van herkoms (waarvandaan jy kom) aangedui word. Normaalweg het ’n burger van ’n land waardes en stories van sy land. Wat sal jy nog wil byvoeg?

Iets om vandag oor na te dink:

Jy sal onthou dat gister se dagstukkie gehandel het oor gestuur wees. Die missio dei van God. Bring nou gestuur wees en die Koninkryk bymekaar. Dink jy ons word gestuur om die Koninkryk te vestig en uit te bou? Hoe dink jy kan ons dit doen?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.