ToekomsVenster: Moed opgee is nie ’n keuse

(Foto:
Sydney Angove/Unsplash)

Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. – 2 Korintiërs 12:9

Die lewe gebeur!

My seun het toe hy nog in die huis gewoon het, hierdie sinsnede op sy deur geplak. Toegegee, die taal was meer eksplisiet as die geredigeerde weergawe wat ek hier aanbied. Ek wil nie stout wees nie maar ek is seker jy word sommer dadelik aan die Engelse eweknie herinner.

Dit vra nie toestemming nie, verneem nie of dit by jou dagboek en persoonlike beplanning, drome en ideale inpas nie. Dit vra nie of jou finansies genoegsaam is om die uitdaging wat nou skielik op die tafel geland het, te kan hanteer nie.

Dit gebeur met ons almal, die lewe! Dit diskrimineer nie, het nie witbroodjies nie en kan somtyds ongenaakbaar en ondraaglik wees. Dit dring meermale tot trane, hartseer, gevoelens van mismoedigheid en wanhoop.

Ja, selfs te midde van die vertwyfeling gaan die lewe voort om te gebeur. Jou geestes- en emosionele toestand maak geen hond haaraf nie.

“Swem, Jannie swem” het hom reeds tuisgemaak in die volksmond. Dit is swem of gaan onder.

Die interessante is dat sodra daar asemnood kom, jy alles in jou vermoë doen om bo die water se oppervlak uit te bars. Die asemnood is eintlik al wat jy nodig gehad het. Oorlewingsdrang neem oor en siedaar, die uitkoms is daar.

  • “Met my God loop ek ʼn bende storm en is geen stadsmuur vir my te hoog nie”, so leer die Woord van die Here ons. (Ps.18:30)
  • “Nie deur krag of mag nie, maar my Gees”, sê die Here. (Sag.4:6)
  • “Roep my aan in die dag van benoudheid en Ek sal jou uitred”. (Ps.50:15)
  • “Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons die krag gee. (Rom.8:37)

Wonderlike Skrifgedeeltes maar net waar vir mense wat nie toegee aan die asemnood nie.

Mense wat die roeping, wat God op hul lewens geplaas het, voel dit pols in hul harte en sê vir hulleself: “dit is eers klaar, as dit klaar is en dit is nog nie klaar nie”.

Komaan, daar is baie meer daarbinne jou as wat jy gedink het. Opgee is nie ʼn keuse nie!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.