ToekomsVenster: Moenie hier parkeer nie

(Foto: Jackson Simmer/Unsplash)

“Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders.” – Deuteronomium 30:19 DB

Interessant hoe alledaagse dinge ʼn mens aan geestelike waarhede kan herinner. Padtekens het veral baie toepassingsmoontlikhede. Ek glo dat jy al ʼn padteken gesien het wat jou nie toelaat om op ʼn spesifieke plek te parkeer nie. Dit is gewoonlik ʼn ronde sirkel met ʼn P in wat met ʼn streep doodgetrek is.

Ons wil dikwels parkeer by ons hartseer, teleurstellings en trauma.

Vir sommige raak hierdie ongelukkige omstandighede ʼn stuk sekuriteit. Nou het hulle ʼn rede waarom hulle altyd swartgallig, negatief en depressief is. Hulle parkeer by die omstandighede en hervat nie weer die reis nie.

Ander parkeer weer omdat dit vir hulle ander se belangstelling, omgee en selfs versorging bring. Die aandag is kosbaar en word andersins ontbeer. Derhalwe hier parkeer waar ek vir ʼn tydjie warmte en omgee kan beleef.

Die seer dinge van die lewe durf jou nie vir lang periodes gevange te hou nie. Ja, die lewe gebeur en dit is somtyds baie fel. Moenie aan die versoeking toegee om te parkeer nie. As dit moet, skep asem, hergroepeer en gaan aan met projek lewe.

Dit beteken nie dat ʼn mens nie tyd moet neem om deur die ongelukkigheid te werk nie. Iewers egter moet daar afsluiting wees. Jy kan nie in ontkenning bly voortleef nie.

Die oorwinning en deurbraak kom wanneer jy by wyse van spreke die volgende kilometer aandurf.

Dit is soos iemand wat van ʼn perd afgeval het. Dit laat jou met ʼn oordrewe gevoel van versigtigheid en selfs vrees. Mense wat weet sal jou aanraai om so gou as moontlik, desnoods net na die afval, dit weer op die perd te waag. Iewers bemeester jy dan die kuns om op die perd te bly.

So gesien lei die seerkry, wat dit ook al mag wees, tot ʼn oorwinning. Dit rus jou toe vir die lewe. Dit maak jou sterker. Moenie dat jou swaarkry jou ʼn bitter, onvergenoegde en depressiewe mens maak nie. Dit het nou gebeur. Jy kan nou niks daaraan verander nie.

As dit dan moet, laat die motor effens luier, kry die spul in rat en kyk na al die geskenke op pad na jou bestemming.

Jesus het terwille van die prys nie die felheid van die kruis ontduik nie.

Hy het sy kop opgetel en gedoen wat moontlik was om te doen, sodat ons hoop mag hê in hierdie stukkende wêreld. Doen dit net, gaan aan met die lewe. Kom in rat en ry verder!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.