ToekomsVenster: Moenie kwaad praat nie

mikrofoon-praat

Foto: Ilyass Seddoug/Unsplash.com

Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie, maar speel jy regter daaroor. Daar is egter maar een Wetgewer en Regter, en dit is Hy wat die mag het om te red en te verdelg. Maar jy, wie is jy om regter te speel oor jou naaste? – Jak. 4: 11-12

Wanneer ʼn mens die teks lees word jy intens bewus van jou eie geneigdheid tot die verkeerde. Waarom is ons so geneig tot die verkeerde sou ʼn mens kon vra? Soos Paulus moet ons bely, dit wat ons wil en moet, dit doen ons nie.

Romeine 7:24 – Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
Genesis 4:7 – Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”

Ons moet oor die verkeerde heers. Ons hoef en kan dit nie in eie krag doen nie maar die Heilige Gees wil ons daartoe bemagtig.

Kwaadpraat is so maklik. Dis in ons gene om die slegte te glo en selfs oor te vertel. Ons kontroleer nie die waarheid nie maar neem ander se skinderstories as die waarheid en dra dit smaaklik oor. Ons verdoesel ons eie onverskillige ongehoorsaamheid deur by te voeg dat dit terwille van gebed is. Die lakmoestoets is of jy en ek dit wat ons oor ander kwytraak in hul teenwoordigheid sal herhaal. Uiteraard faal die meeste van ons die toets. Ons is weer terug by die tong en die ongeregtigheid wat daardeur aangesteek word.

Die hartseer is dat die onwaarhede met ʼn broer te doen het. Reg verstaan is ʼn broer iemand wat deel het aan die geloofshuis waarvan jy deel is. Iemand vir wie Jesus ʼn duur prys betaal het.

Die wet waarvan hier sprake is, is uiteraard die liefdeswet van God. Immers, die hele wet sê Jesus word saamgevat in liefde vir die Vader en liefde vir die ander.

Die wetgewer is ook die regter. Hy sal beslis oor ander se lewens. Hy sal egter ook oor jou en my beslis. Hy is ons almal se Regter.

Ons speel jurie, verhoor, gee getuienis, maak uitspraak en veroordeel ons broer. Dis hartseer om die minste te sê.

It’s me, it’s me, it’s me, oh Lord
Standing in the need of prayer
It’s me, it’s me, it’s me, oh Lord
Standing in the need of prayer

Not my father, not my mother
Not my sister, not my brother
Not the people that are shoutin’
Not the members I’ve been doubting
Not the preacher, not the sinner
Not the deacon, not the teacher
But it’s me, oh Lord
Standing in the need of prayer

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.