ToekomsVenster: Moenie namens God probeer oordeel

(Foto: Cristofer Jeschke/Unsplash)

“Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe.” – 1 Kronieke 29:11 (AFR83)

Ek sluit aan by gister se vraag oor of ons God regtig kan ken?

Die vraag of wat ons van God weet, dalk liewer wat ons dink ons van Hom weet, alles is wat daar is om te weet?

Uiteraard, nee.

Hoe kan ʼn mens aanspraak maak daarop dat Hy die God, wat die heelal in wording gespreek het en wat alles sedert die begin − en waar is die begin as daar geen begin is nie − in stand hou, ken?

Hy, ons ewige Vader het geen begin en geen einde nie. Dit beteken aan die ander kant, en na beide kante van die Alfa en Omega, gaan God steeds voort.

Ondenkbaar, te groot vir ʼn mens se gedagtes.

Ek vra die teoloë na wie ek gister verwys het aan die einde van ons gesprek wat dit is van God wat hulle tot rus bring.

Een antwoord iets besonders: Die feit dat Hy aan die vooraand van sy kruisiging met die oproep dat sy kinders een sal wees sou gesê het – “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie sou ek dit nie vir julle gesê het nie”.

Wat sou dit beteken en waarna sou dit verwys?

Dit bring my eweneens by die slotsom: Om oor God te praat, roep nederigheid na vore.

Jy het ook al gehoor dat die ewigheid ons mag verras.

Ons gaan mense mis wat ons gedink het daar sal wees, en dit is ʼn hartseer werklikheid. Die Here ken en sien en weet alles. Die Bybel sê nie elkeen wat sê “Vader, Vader” sal die Koninkryk beërwe nie. “Hy wat die wil van my Vader doen,” sê Jesus aan sy toehoorders.

Die teendeel is egter ook waar. Ons sal mense daar sien wat ons nie gedink het daar sal wees nie!

Sou dit mense wees wat ons by voorbaat uitgesluit het?

Mense vir wie Jesus gesterf het. Mense wat anders dink en doen en selfs glo as ons, maar die knie een of ander tyd voor die Majesteit van die hemel gebuig het?

Sal ons nie die Here toelaat om Here te wees nie?

Immers sy Woord is daaroor duidelik: “Dit is nie sy wil dat enige mens verlore gaan nie”. − 2 Petrus 3:9

Ook dat daar net een, slegs een − ek sê dit weer, net een − voorwaarde vir die ewige lewe is. Die vraag: “Wat het jy met God se Seun gedoen?”

Die res vloei daaruit voort.

Dit herinner my aan die verlore seun. Daar was nie eers tyd om te bely nie. Al wat Hy gesê het, is: “Pa, ek het gesondig” en dit was genoeg. (Lukas 15:21)

Moenie namens God uitsluit nie.

Ons wil nie rooi gesig staan en wens ons het anders geoordeel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.