ToekomsVenster: My gebed is ’n wierookoffer

wierook-geure-reuke

Foto: Pixabay/Pexels.com

Mag my gebed voor U wees soos ‘n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos ‘n graanoffer in die aand. – Psalm 141:2

Die bedoeling van die teks is seer sekerlik dat my gebedslewe vir God aanneemlik sal wees. Die wierookoffer is een van die offers wat in die Bybel baie bekend is. In die heilige deel van die tempel is wierook gebrand op die wierookaltaar. Die wierook is volgens ʼn resep gemaak wat vir niks anders as die aanbidding van God bedoel is nie.

Wierook het ʼn besondere aangename geur. Soos wierook ʼn aangename geur versprei word ons geroep om deur ons lewe en getuienis ʼn aangename geur te versprei. Hier word dit van toepassing gemaak op ons gebedslewe.

Die graanoffer was ʼn dankbaarheidsoffer. Offers is iets wat ʼn mens na die Here bring en wat in die teken van ʼn opoffering staan. Dit kos iets. Dit mag uit ʼn mens se oorvloed of uit die bietjie wat jy het voortkom.

Die Here vra nie wat ons nie het nie maar Hy vra wat Hom toekom. Daar was ʼn verskeidenheid van offers in die ou Testamentiese tyd wat die karakter van toewyding en dankbaarheid, aanbidding lof en erkentlikheid gehad het.

Die graanoffer kon verteenwoordigend wees van die res van die oes. Die bedoeling was dat soos die eerste gerwe aan God gewy word die res ook aan Hom gewy was. Die bedoeling van die teks is dus duidelik dat die gebed van ʼn gelowige ʼn aangename en dankbare belewenis moet wees. Dit moet in gewone taal vir God aangenaam wees om ons te ontvang. Dan ontvang Hy ons soos ʼn eregas soos Ps. 23 dit verwoord.

Niemand hou daarvan op voortdurend te hoor hoe swaar en onverkwiklik die lewe is nie. Waarom sou dit anders wees vir God? Sou Hy nie daarvan hou om blymoedige en dankbare mense by Hom te verwelkom nie?

Dit beteken uiteraard nie dat ʼn mens nie die vrymoedigheid mag neem om jou teleurstelling en nood en behoefte voor die Here te verwoord nie. Ons bid immers “gee ons vandag ons daaglikse brood”. Maar ai. Maak dit vir die Here ook aangenaam om jou te verwelkom, of hoe.

“Jy kan meer doen as bid nadat jy gebid het, maar jy kan nie meer doen as bid totdat jy gebid het nie.” ~ A.J. Gordon

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.