ToekomsVenster: My God sal in elke behoefte voorsien

(Foto: Maria Shanina/Unsplash)

En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. – Filippense 4:19

Nog ʼn besondere teks in die Nuwe Testament waar Paulus vol lof is vir die gehoorsaamheid en volharding van die gemeente in Filippi. Hulle ondersteun hom daadwerklik in sy bediening en het selfs ʼn verteenwoordiger van die gemeente gestuur om Paulus in die gevangenis in Rome te bemoedig. Met sy terugkoms bring hy hierdie brief aan die gemeente saam.

Die brief is propvol merkwaardige geloofswaarhede en bruis van opgewondenheid.

Dit is ook in hierdie brief dat ons die bekende Filippense 4:4 kry. Ek wonder of jy dit ook gesing het?

Die aangehaalde teks herinner ons aan die “verbondsorg” van die Here. Hy is immer getrou aan die beloftes wat Hy aan Abraham, die vader van alle gelowiges gemaak het. Hy kan nie ontrou bevind word nie. Elke woord is gewaarborg en betroubaar.

Om in tye van oorvloed die Here te loof vir sy getrouheid en seën, is gepas.

Om in tye van onsekerheid en tekort die Here te herinner aan sy Woord, is Bybels.

Ek het wagte op jou mure uitgesit, Jerusalem, hulle sal dag en nag roep. Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. – Jesaja 62:6

Dit is uiteraard nie omdat die Here vergeet dat ons Hom moet herinner nie, maar omdat ons vergeet.

Elke keer as ʼn mens ʼn belofte van die Here in herinnering roep wek dit geloof. Sonder geloof ís dit onmoontlik om God te behaag, sê die Bybel.

En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. – Hebreërs 11:6

Elke behoefte ryklik en in ooreenstemming met sy wonderbaarlike rykdom.

Dit gaan uiteraard oor veel meer as fisiese welvaart. Natuurlik wil die Here ons ook op daardie terrein seën, alhoewel ons definisie van geseënd wees en sy definisie van mekaar mag verskil.

Dit gaan egter veral oor die geestelike vervulling en volheid, genoegdoening en opgewondenheid, waarvan Paulus praat.

Om vanuit die tronk te skryf en die woorde “my God” te gebruik, betuig Paulus dat hy selfs in daardie moeilike omstandighede, steeds oorweldig word deur die Here se goedheid.

Inderdaad die Psalmdigter skryf mos: “Die Here is my Herder. Ek kom niks kort nie”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.