ToekomsVenster: My hulp kom van die Here

(Foto: Cagatay Orhan/Unsplash)

Ps. 121:1-2 – Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Dit is aangenaam om ons gesprekke te hervat en baie dankie dat jy daarna luister, dit lees en met ander deel. Ek is ook baie dankbaar vir die geleentheid wat aan my gebied word om Skrifwaarhede met jou te deel.

Dit is inderdaad so dat ons almal aan die ontvangkant van die Skrif staan en onsself moet verantwoord in die lig daarvan. Ongeag hoe slim en geleerd en hoe deeglik jy onderlê mag wees in wat die Bybel leer,  die gedagte dat jy nie meer aan die gesag van God se Woord  onderworpe is nie, is uiteraard arrogant en onvanpas.

Ons lewe uit die Hand van die Here.

Elke asemteug is Sy wil. Trouens, as daar een ding is wat hierdie nare ervaring met Covid-19 ons kom leer het is dit ons eie onvermoë en afhanklikheid, die nietigheid van ons bestaan en die vloeibaarheid van alles.

Aardse sekuriteite skiet ver tekort. Net die wete dat my naam geskrywe staan in die boek van die lewe en van die Lam troos werklik. Sonder om afstand te doen van ons eie verantwoordelikheid om protokols tot op die letter na te kom weet ons dat bv.  Ps. 121 waar daar geskrywe staan dat  God oor ons waak en ons belange op sy hart dra ons deurdra.

Ek wil graag in die volgende paar dae met jou gesels oor ʼn woordjie wat nagenoeg 163 keer in die Bybel voorkom, weliswaar in verskillende kontekste. Ek verwys na die woordjie “totdat”.

Ons sal uiteraard nie aan elke Skrifgedeelte kan aandag gee nie maar ek wil dit tog waag om ʼn paar lyne te trek wat dalk verband hou met die huidige toedrag van sake, ek verwys spesifiek van Covid-19.

Die jaar het sommer baie onstuimig begin en die nuwe variante van Covid-19 laat dit blyk dat ons nog geruime tyd daarmee gekonfronteer gaan wees. Hoe langer die trauma en onsekerheid voortgaan en hoe nader die dood aan elkeen van ons eie leefwêreld kom hoe meer soek ons na vastighede uit die Woord van die Here.

Die Godsvraag was nog nooit so relevant soos in die tyd waarin ons lewe nie.

Waarmee is God besig, trouens waar is God en waar is tekens dat Hy te midde van die chaos inderdaad met hierdie wêreld op weg is?

Het God met groot huiwering gesê handdoek ingegooi, is Covid-19 meer as wat Hy kan hanteer, het Hy ons aan onsself oorgelaat, het Hy onttrek en ja selfs bestaan Hy hoegenaamd is vrae waarmee baie worstel?

ʼn Lukrake gryp na Bybelversies en vriendelike rympies, oppervlakkige trooswoorde en antwoorde help doodgewoon net die meer nie.

Is jy bereid om dit saam met my te waag terwyl ons ons eie sekerhede herbesoek en vrae of dit nog water hou?

Ek nooi jou uit om in die volgende dae die woordjie totdat in die Bybel te besoek en te vra of die Here nie vir ons iets daardeur wil sê nie.

Nogmaals dankie dat ons die reis saam met die Heilige Gees en met mekaar kan aandurf.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

Ek is verheug vanoggend om weer na U te kan luister!! Baie dankie vir die boodskap ek sien uit na die volgende sessie en sal beslis gaan en soek in die bybel na “totdat”.

Yvonne ·

Dankie Here Jesus…U is nie mens dat U sal lieg nie…U Woord se so…..ek glo dat U in beheer is en niks maar niks onder U oog uit is nie..Amen

Chris ·

Ek is bly die Toekomsvenster is terug. Ek staan nie onverkillig teen die Covid pandemie nie. Ek het ook geen voet om op te staan nie, behalwe op my kniee. Ek vra ook die vraag, waarom laat God toe wat tans aan die gang is. Wat beplan en voer Hy in die mou. Ek en my vriend gesels vanoggend daaroor. God het Hom reeds twee keer vir sy maaksels vervies. Die sondvloed en Sodom en Gomorra, ek praat nie eers van die oorloe, plae en ander epidemies waarvan ons nie eers bewus van is nie. Al wat God van ons verwag, is gehoorsaamheid (om Hom te behaag) en te glo dat Hy ons liefhet en ons met Sy seun se bloed van die sondemag vrygekoop het. Doen ons dit. Nee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.