ToekomsVenster: My jongste herinnering

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Maar U ken my, Here. U sien my net soos ek – Jeremia 12:3 NLV

Ek luister na ʼn voordrag oor kinderdae se seerkry. Niemand is daarvan uitgesluit nie en die bedoeling is nie om mense te verhoor en skuldig te bevind nie. Ons ouers en versorgers, wat deel van ons brose opgroeijare gevorm het, was en is net mense.

Elkeen is op reis met sy eie seerkry, vrae en vertwyfeling. Om egter te ontken dat jy iewers langs die pad ʼn wond opgedoen het en dit dan nie te verwerk nie maak die hele oefening nutteloos en ʼn vermorsing van tyd en energie.

Die vrou vertel dat haar eerste ervaring op die ouderdom van drie, was dat haar ma en pa kaalvuis baklei en uiting gegee aan hul emosies en frustrasies.

Watter boodskap het sy as driejarige dogtertjie gekry?

Ek is nie goed genoeg nie, hulle baklei oor my, ek is die rede vir die ongelukkigheid, ek is nie goed genoeg nie en daar skort iets ernstig met my. Ja, dit is natuurlik onwaar maar watter ander verwysingsraamwerk het ʼn kindjie op daardie ouderdom?

Daardie eerste bewustelike ervaring het die draaiboek van haar lewe geskryf. Onderdrukte woede, perfeksionisme, rigiditeit, gebrek aan gesonde ontspanning en rus, dit het alles deel van die spel geword.

Dit was eers toe sy die weg van innerlike genesing begin bewandel dat sy waardering kon begin ontwikkel vir die belangrike en selfs jammerlike rol wat haar eerste jare ervarings in haar lewe gespeel het.

Die slegte nuus is dat jy nooit werklik vry raak van daardie meesterverhaal nie. Die goeie nuus is dat jy kan leer om met die werklikheid saam te leef en gaandeweg oorwinning beleef.

Meeste mense is salig onbewus van die rol wat jeugtydervarings, daardie eerste jare van grootgeword het in jou vorming gespeel het.

Vir verskillende mense is dit verskillende dinge.

Elkeen formuleer ʼn boodskap wat vir hulself waar en geldend is. Dit word ʼn manier van oorleef, ʼn verdedigingsmeganisme.

Selfs te veel liefde kan jou potensiaal smoor.

Ouers het so ʼn belangrike rol om hul kinders te koester. Die manier waarop dit gedoen word, is om ernstig met hul eie seer te werl, hulp te soek en die weg van genesing te bewandel.

Waarom wil jy aan jou kinders doen wat aan jou gedoen is, selfs onbedoeld, ja, vanweë ʼn gebrek aan emosionele intelligensie gedoen is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.