ToekomsVenster: ’n Aanbevelingsbrief deur die Gees

Argieffoto (Foto: Jarmoluk/Pixabay)

Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos party ander mense, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig? Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense. 2 Kor. 3:1-3

Ons kuier hierdie week so ʼn bietjie in Paulus se tweede brief aan die gemeente in Korinte.

Paulus verduur klaarblyklik baie kritiek en moet bontstaan om sy apostelskap te verdedig. Dat dit nie vir hom aangenaam is om te doen nie, is duidelik uit die brief.

Dit is so dat ʼn mens se motiewe somtyds onregmatig bevraagteken word. Terwyl jy weet dat jy met integriteit opgetree het kom daar mense na vore wat ander agendas het en mense negatief beïnvloed. Dit is altyd verrassend dat die mense naaste aan jou, mense met wie jy saam gebid het, vir wie jy ondersteun het en vir wie geen moeite te veel was nie handomkeer hul rug op jou kan draai. Dit is ʼn werklikheid waarmee ons moet rekening hou. Dit is ʼn stukkende wêreld.

Dan weer maak Paulus dit duidelik. Hy het nie aanbevelingsbriewe van die gemeente nodig nie. Dit wat in en deur hulle tot stand gekom het, gerugsteun deur die werk wat Paulus onder hulle gedoen het, is genoeg bewys dat die Here in die saak is.

Die aanbevelingsbrief is deur die Gees geskryf en is daar vir almal om te lees. Ander mense kan getuig watter dramatiese wending daar gekom het in die lewens van die lidmate van die gemeente. As hulle dan self vir ʼn oomblik te blind is om dit raak te lees sal ander mense hulle daaraan herinner.

Die inhoud van daardie brief is Christus. Dit is duidelik dat mense van die dood oorgegaan het in die lewe. Die kwaliteit van die Gees se inwoning straal uit hulle uit. Alles het nuut geword.

Dit is so dat mense vergeet waar die Here hulle gaan haal het, dat gelowiges hul waardering vir God se werk in hul lewens verloor.

Waar het die Here jou gaan haal? Kan jy nog onthou?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.