ToekomsVenster: ʼn Aktiewe proses


Lente-bloeisel-02

Argieffoto.

Die vrug van die Gees is … goedheid, getrouheid… – Galasiërs 5:22

Die ontwikkeling van die vrug van die Gees in ons is ’n proses wat van ons aksie vra. Niemand beland sommer eendag in ’n posisie van geestelike volwassenheid nie. Dit vra doelgerigte keuses om jouself oor te gee aan die Heilige Gees en God se wil hoër prioriteit te laat geniet as jou eie voorkeure en gemak en om ook dag na dag te bly kies vir ’n lewe onder Sy gesag. Sal ek dit weer kies noudat ek beter verstaan wat dit behels? Verseker! Die Heilige Gees maak van elke deur wat toegaan ’n springmat na ’n groter deur. Sy invloedsfeer is omvangryker as wat ons kan verwoord. Hy neem ons na plekke toe wat ons nie geken het nie; Hy gee invloed wat ons nie verwerf het nie; Hy voorsien waarvoor ons nie gewerk het. As Hy van my goedheid vra, wil ek daarin groei. Na alles, God is goed en ons wil mos graag Sy karakter begin openbaar, Markus 10:18.

Toewydingsoomblik
Vra jouself af:
• Getuig my gesprekke van ’n ingesteldheid van goedwees vir ander, of skinder ek nog en kry ek nog lekker as iemand op sy plek gesit word?
• Luister ek getrou na die stem van die Heilige Gees en doen ek wat Hy vra?

Gebed
Dankie Here, U los my nie waar ek is nie. Verlos my nóg dieper van my sondige natuur. Ek wil ook inherent goed wees soos U. En ek wil graag aan die einde van my lewe hoor hoe U ook vir mý sê: Mooi so! Jy was getrou oor alles wat Ek aan jou toevertrou het! Heilige Gees help my asseblief om te groei in geestelike volwassenheid! Amen.

Praktyk
Vanweë Sy getrouheid beskerm God ons teen die Bose (2 Tessalonisense 3:3), temper Hy die versoekings waaraan ons blootgestel word (1 Korintiërs 10:13), vergewe Hy ons sonde (1 Johannes 1:9) en stel Hy ons in staat om enduit te volhard (1 Korintiërs 1:9). Sorg dat jy nie op plekke kom waar jy versoek word om ontrou aan Hom te kan raak nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.