ToekomsVenster: ’n Ander leefstyl

dink-denke-denker-man-sit-rots

(Foto: Christopher Sardegna/Unsplash)

Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hy wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is. – Rom. 12:2

Christenskap het alles te doen met die manier waarop ons lewe. Om jou Christenskap as iets esoteries, verhewe en subjektief in te klee, is om nie te verstaan wat roeping beteken nie. Baie Christene het ʼn ander profiel vir Sondag as vir die res van die week.

Op Sondae tree hulle op ʼn bepaalde manier op en vir die res van die week, totaal anders. Daar is nie van ʼn dualisme sprake in ons verhouding met die Here nie. Dit is inderdaad Jesus in alles, of Jesus in niks.

Terwyl dit so is dat heiligmaking ʼn ontvouende aangeleentheid is, in teorie volledig geheilig maar in praktyk van dag tot dag meer en meer vergestalt, mag heiligmaking nie agterweë gelaat word nie.

Heiligmaking betrek my hele lewe, my opstaan, funksionering gedurende die dag en selfs my gaan slaap.

Dit is een van die redes waarom die kerk as gemeenskap van gelowiges dikwels nie respekteer word deur nie-gelowiges nie. Mense sien dwarsdeur ons en kom agter dat ons met twee stelle waardes lewe.

Aan die een kant probeer ons alles om by ander mense aan- en in te pas. Ons wil nie hê dat hulle ons as hoogmoedig, verhewe en hoogheilig beskrywe nie.

Dat ons nie so wêreldvreemd moet lewe dat ander mense hoegenaamd nie met ons kan identifiseer nie, is inderdaad so. Ons leef immers nog op aarde. Ons funksioneer soos ander mense en het dieselfde behoeftes as ander. Hoogdrawendheid sit mense af en trek niemand nader aan die verlossingsboodskap nie.

Aan die ander kant mag ons nie so hard probeer om in te pas dat daar geen verskil tussen ons as gelowiges en ongelowiges te bespeur is nie.

Ons, en ek wil my nie skuldig maak aan moralisme nie, drink, rook, ja, vloek selfs soos baie ander mense. Ons besoek dieselfde plekke, kyk dieselfde programme en bewonder dieselfde mense.

Koninkryksburgers is inderdaad ʼn ander spesie. Ons is uitverkies en eenkant gesit om God se volmaakte plan te ontdek en daarmee besig te wees.

Generies beteken dit dat ons ʼn Bybelse moraliteit openbaar wat in al ons keuses duidelik na vore tree. Spesifiek beteken dit dat ek uitvind wat dit is waarmee die Here wil hê dat ek, met my spesifieke kombinasie van gawes en talente, besig moet wees.

Dit alles terwyl ek myself gewilliglik onder die inspirasie en transformerende krag van die Heilige Gees begewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.