ToekomsVenster: ’n Dapper muis

(Foto: Joshua J. Cotten/Unsplash)

“Moenie die duiwel vatkans gee nie. As iemand ʼn dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ʼn eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee. Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.” – Efesiërs 4:27-31 (AFR83)

Dapperheid is ʼn pragtige gawe en ingesteldheid. In die storie van dié muis is daar egter geen werklike sprake van dapperheid nie. Die refrein “vir niemand is ek bang, daar is niks wat my kan vang” is eintlik lagwekkend, want elke ding onder die son maak die muis bang.

Geen wonder dat die heel laaste woorde van dié kinderliedjie is: “Jy jok, jy vat ʼn vet kans, jy bedrieg net jouself, jy is eintlik ʼn bangbroek, maak vrede daarmee”.

Daar is ʼn belangrike verband tussen dapperheid en nugterheid. Onoordeelkundige dapperheid daag dinge uit sonder om jou eie broosheid en vatbaarheid vir invloed te oorweeg. Ten minste is die muis in die storie eerlik genoeg om te sê, buite dit en dat, is daar niks waarvoor ek skrik nie.

Ons is mense en mense het beperkinge. Sommige van daardie gevaarsones lê in ons gene. ʼn Bietjie navorsing oor waar jy vandaan kom mag swakhede in jou mondering, wat geslagte lank sluimer, onder jou aandag bring. Waarom sou jy dit willens en wetens wil uitdaag?

As jou voorgeslagte ʼn afhanklikheidsprobleem gehad het, moet jy moedswillig wees om dit nie in ag te neem wanneer jy keuses uitoefen nie?

Jy mag redeneer dat jy die uitsondering op die reël is en gaan wees, maar is dit die moeite werd om willens en wetens ʼn kans te vat?

Dit beteken nie dat jy jouself allerlei dinge uit die staanspoor hoef te ontsê nie. Wat dit wil beteken is dat jy ʼn nugterheid openbaar, ʼn teenwoordigheid van gees, ʼn verantwoordelikheid teenoor jouself en ander koester. Immers, ons leef nie in die ruimte nie. Ons skuur skouers met ander mense, naby en ver.

Daarbenewens is ons gelowiges, kinders van die lewende God. Dit is inderdaad so dat die Gees van die Here ons beskerm en bemagtig. Hy staan ons by en maak dat ons in die opstandingskrag van Jesus leef.

Om die Gees willens en wetens uit te daag, te versoek en te beproef, is nie wys nie. Die Gees is Heilig en dit beteken dat ons naby aan nederigheid sal probeer leef.

Die Bybel sê: “moenie die duiwel ʼn vatkans gee nie”.

Vatkans is subtiel en aanvanklik minimalisties, maar as jy nie wakker loop nie, is dit net ʼn kwessie van tyd en jy het jou vryheid van keuse verloor.

Is jy ʼn dapper muis of ʼn verantwoordelike, nugtere en wakker kind van God, wat weet dat die stryd ʼn werklikheid is?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U Heilige Gees in my woon….my leer en lei…..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.