ToekomsVenster: ’n Druppel op ’n slag

Foto: Jimmy Chang/Unsplash

By ons huis (die pastorie) is daar ʼn pypie wat vanaf die waterverwarmer  na buite loop en die water wat kondenseer drupsgewys na buite stoot. Die plaveisel daaronder is altyd nat en ek het gewonder wat die kumulatiewe effek van die druppels sal wees as ek ʼn houer daaronder plaas. So gedink en so gedaan. Tot my verbasing was die houer binne ʼn relatiewe kort tyd oorlopens toe vol. Nou het ek ʼn groter houer daaronder geplaas met ʼn kraantjie waaruit die gieter volgemaak kan word. Die houer dreig reeds om oor te loop.

Een druppel op ʼn slag.

Iewers het ek gelees, moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Mens wonder somtyds of die bykans weglaatbare bydrae wat jy waar ook al lewer, in vergelyking met die nood daar buite, die moeite werd is. “Watter verskil kan ek tog maak” is die refrein wat ʼn mens telkens raakloop.

Wel, ek het met my eie oë gesien dat ʼn volhoubare, konstante en voortgesette gedrup die wêreld se verskil maak.

Hou dus aan. Jy weet nie wanneer dit spreekwoordelik die laaste druppel is wat die houer volmaak nie. Dis die laaste druppel wat vir die deurbraak sorg, gerugsteun deur volgehoue en getroue roepingsvervulling. Jy maak ʼn verskil, ʼn reuseverskil, maar dan moet jy nie spoed verloor en op moed verloor se vlakte gaan sit nie.

Wees getrou in die kleine, God sal jou beloon.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Von ·

Here dankie ook vir vandag se dagstukkie…..soms verloor ek moed…maar drupsgewys maak U ons vol van U Gees en liefde….ek Eer U vir U Almag en Grootheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.