ToekomsVenster: ’n Familie waar ander mense my mense word

gesin

Foto: Jill111/Pixabay.com

“Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.” – Efesiërs 2:18-19

Jesus se Koninkryk het die potensiaal gehad om die totale sosiale stelsel op sy kop te keer. Hy wou alles skud: die manier van regeer, die Joodse kultuur / godsdiens… en selfs die gesinstruktuur – die mees basiese bousteen van die antieke samelewing.

Van die mees skokkende goed wat Jesus gesê het, het betrekking gehad op die gesin. Die antieke mens se hele identiteit en menswees was gebaseer op die gesin waaraan hy/sy behoort.

Dis teenoor jou gesin wat jy in die eerste plek met eer of skaamte opgetree het. Die meeste Nuwe Testamentici meen dat Jesus se “Wie is my moeder en wie is my broers?” uitspraak in Matteus 12 uiters moeilik moes afgaan in die antieke tyd. Dit was, om die minste te sê, skokkend vir die eerste hoorders (ook Sy opmerkings in Matteus 19:28 en 8:21,22).

Die vroeë kerk het hierdie idee van Jesus baie ernstig opgeneem. Daar was in die antieke tyd geen sterker manier om jou verbintenis met iemand uit te druk as om hom / haar “broer” of “suster” te noem nie. Baie mense – Grieke, Jode, Samaritane, Romeine – is uit hulle gesinne verwerp toe hulle volgelinge van Jesus geword het. Die kerk was die nuwe gesin van God waar almal welkom was.

Gedagte

Wat weerhou ons daarvan om vandag hierdie familie te wees?

Gebed

Help ons om U genesende familie te wees in ’n stukkende wêreld. Help die kerk vandag om meer te wees as ’n groep Christene wat Christelike byeenkomste bywoon. Maak ons weer die omgeegemeenskap wat U ons bedoel het om te wees. Amen.

Onthou die tyd van gebed vanaf 25 Mei (Hemelvaart) tot 4 Junie (Pinkster).

Die huidige knelpunte roep ons om ernstig te bid vir ons land en sy uitdagings met die verwagting dat die Here ons sal gebruik om die verskil te leef. Christene word opgeroep om daagliks te bid net waar hulle hulself bevind, veral gedurende die goue uur van gebed vanaf 12:00-14:00.

Daarbenewens word gelowiges uitgedaag om veral saam met onbekende mense te bid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.