ToekomsVenster: ’n Fyn ingesteldheid

(Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. – Rom.12:15

Die teks vra baie van mens. Dit vra vir ʼn fyn ingesteldheid, ʼn bykans bonatuurlike sensitiwiteit vir ander mense.

Uiteraard leef ons nader en verder van mense af. Sommige is deel van ons onmiddellike verwysingsraamwerk. Ander is kennisse. Niemand kan heeltyd ingestel wees op die nood en behoefte van alle ander mense nie.

Ons het ook nie almal dieselfde gawes nie.

Ons kan darem poog om ʼn goeie aanvoeling te ontwikkel vir die mense wat na aan ons leef.

Dit is nie moeilik om bly te wees met ander nie tensy jy sukkel met jaloesie.

Dit is ʼn aaklige emosie en as ʼn mens eers daarvoor plek gemaak het in jou hart, skud jy dit moeilik af.

Mens is jaloers wanneer jy dink dat jy God se antwoord op die vrae van die lewe is. Dit is weer daai ingesteldheid van meerderwaardigheid en selfverheffing.

Toegegee, ons sukkel almal van tyd tot tyd daarmee.

“Dit moes my eerder toegekom het,” redeneer jy waar niemand anders dit weet nie. “Ek verdien die bevordering meer as hy. Waarom kan hulle daardie luukshede bekostig en ons nie?”

Daar is tientalle scenario’s en soos ek het jy al daarmee en die gevoelens van afguns wat daarmee gepaard gaan beleef? Maar ons is kinders van die Here en tree nie soos die wêreld op nie. Ons doen dinge anders omdat die Here in ons harte woon en ons lewens deur sy Gees beheer.

Om afgunstig te wees, is om indirek te sê dat die Here nie vir jou na behore sorg nie. Dit is om te sê dat Hy onregverdig is en ander voortrek wat natuurlik van alle waarheid ontbloot is.

Moenie dat gevoelens van afguns en jaloesie jou lewe beheer nie. Dis onnodig.

Daar is mense wat na jou kyk en wens dat hulle kan hê, doen, weet, gaan, ervaar, wees wat jy is en jy weet nie eers daarvan nie.

Elkeen het ʼn spesiale plekkie onder God se son.

Geniet jou spasie en gun ander hulle s’n.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.