ToekomsVenster: ’n Gebed met vrae

(Foto: JP Voogt)

Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word… – Matteus 7:7

Dit is ʼn wonderlike voorreg dat ons met God mag praat. Ons noem dit gebed.

Ons praat met God, die God van die Heelal, die Skepper, Vader en Here.

Ons praat met Hom eerlik en opreg, sonder vertoon en doekies omdraai. Ons steek niks weg nie want Hy weet alles. Hy hou daarvan as ons eerlik is en eerlikheid is bevrydend.

Ons sê vir God hoe dit met ons gesteld is, ons gebruik nie mooi woorde en dink dat ons Hom daardeur beïndruk nie. Hy kyk na die hart.

Jou woordeskat mag verdienstelik wees maar as jou hart vêr is, help dit niks.

God kyk na die hart. Gebed is hartsake gesels. Ons praat ook met Hom oor ons twyfel. Dit is wat ons vandag gaan doen.

Kom ons bid saam:

“Here, daar is so baie dinge in hierdie wêreld wat ek nie verstaan nie.

Ek verstaan nie waarom mooi en goeie mense, ja, ook Christene, somtyds so verskriklik swaarkry nie.

Ek verstaan nie waarom kinders honger gaan slaap en sommige selfs van ʼn broodgebrek sterf nie.

Ek verstaan nie waarom sommige mense afgeknou en verrinneweer word nie. Ek dink in hierdie verband aan die lot van duisende vroue en kinders in ons land en die brutaliteit wat teenoor hulle vertoon word nie.

Ek verstaan nie waarom sommige te veel het en ander niks het nie.

Ek verstaan selfs nie waarom ek soveel geleenthede het en ander min het om na uit te sien nie.

Vader, ek verstaan nie Covid-19 en die hartseer en verlies wat dit gebring het nie. Skaars is dit verby en die hele wêreld word beïnvloed deur die wreedheid wat teenoor die mense van die Oekraïne bewys word.

Ek verstaan nie waarom despote en diktators die oorhand oor mense kry nie.

Waarom laat U die seer toe?

Waarom voel dit somtyds asof U ons aan ons eie lot oorgelaat het?

Ek gaan my gebed nie vandag kwalifiseer omdat ek bang is dat U my sal kwalik neem dat ek my twyfel na U toe bring nie. Die lied leer immers

‘Al my twyfel bring ek Jesus. Hy sal sy belofte hou’.

Ek glo Here, maar ek verstaan nie.

Dankie dat U my ook hierin verdra.

In Jesus se Naam.

Amen”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here al verstaan ek so min weet ek dat ek U volkome kan vertrou…Amen

BOKKIEBEK ·

Amen Here, gebroke harte en siele is aan die orde van die dag…. Gryp in asb…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.