ToekomsVenster: ‘n Gebed om hoop


Hoop

Argieffoto.

Rom 15:4,13: Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Dit is opvallend hoe dikwels Paulus en ander skrywers in hulle briewe die lesers deur gebed bemoedig. Aan die hart van baie van hierdie gebede is hoop. So byvoorbeeld dank hy die Here vir die krag van die evangelie onder die Korintiërs en sê dan: ‘Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie…’ (1 Kor 1:7-8). Vir die Efesiërs sê hy: ‘Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het’ (1:18). Kyk ook na sy gebed vir die Filippense: ‘Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees…’ (1:9,10).

As ‘n mens deur die brief aan die Romeine lees, word dit duidelik dat hulle soms moeilike tye beleef het (Rom 8:35-39). Paulus se brief bevat baie bemoediging. Hierdie gedeelte is een daarvan. Paulus bid dat hulle hoop sal toeneem. Hy is nie geïnteresseerd dat hulle ‘n bietjie hoop sal hê nie, maar dit sal meer en meer word (15:13).

Hoop is iets wat elke mens nodig het. Plato, die Griekse filosoof, het gesê dat hoop in die mens se bloed sit. In die Griekse denke is hoop ‘n redelik onseker saak. ‘n Griekse legende lui dat die mens alles verloor het – vertroue, vriendskap, ja elke goeie gawe, maar dat elpis (hoop) oorgebly het. Daarom, so word gesê, moet ons aan hoop vashou en offers aan hierdie laaste gawe bring.

Die Christelike hoop is anders. Kyk wat bid Paulus bid. Eerstens noem hy God die bron van ons hoop (15:13).  Ons hoop word nie in onsself gevind nie. Ons het hoop omdat Hy hoop gee. Tweedens is ons hoop gewortel in die Woord van God (15:4). Die Skrif gee die standvastigheid en bemoediging wat ons met hoop vul. Die Skrif gee ons sekerheid. Daarom het ons hoop. Hoop is dus nie soos ons hoop dat dit môre ‘n mooi dag sal wees nie. Dis vas. Dis seker.

Derdens word ons hoop meer (oorvloedig) en neem dit toe deur ons geloof in God, die bron van ons hoop. Geloof in God en egte hoop is onskeibaar. Hoop is nie iets wat in ons are vloei nie. Dit word geskenk. Dit word meer namate ons fokus op God, die bron van ons hoop. Dit gebeur, sê Paulus, wanneer ons ingeprop is by die kragpunt van die Gees!

Sal dit nie wonderlik wees as ons kon leer om vir mekaar te bid vir meer hoop nie! Meer nog, mag ons hoop deur die liefde vir mekaar (15:1-7) en die geloof in die Bron van hoop elke dag sterker word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.