ToekomsVenster: ’n Gebed oor roeping

(Foto: Darrell Strydom)

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! – Jeremia 29:11

Gedurende hierdie week bid ons saam.

Gebed sluit hemel en aarde aan mekaar. Gebed beweeg die hand van God, word allerweë gesê. Dit is inderdaad so maar gebed moet ook ons hand beweeg. Dit is nie alleen God wat werk nie maar ons werk ook. Ons werk saam met Hom. Ons kyk waarmee Hy besig is en sluit daarby aan.

Gebed bevestig die roeping wat die Here op ons lewens geplaas het. In gebed onderskei ons wat die wil van God is en ontvang die genade en bystand om dit uit te leef.

Vandag bid ons dat die Here se plan vir ons lewens verwerklik sal word:

“Here, God van die Bybel, maar ook my God. U wat die lewens van alle mense in U hand hou, ook myne. U wat voor my geboorte reeds met my lewe ʼn plan gehad het.

Ek dank U dat ek nie soos ʼn  verslete skippie op die oseaan van die lewe ronddryf op soek na sin en betekenis nie.

U gee betekenis, in sonder die plan wat U vir my lewe het.

Ek is opgewonde daaroor dat ek in U diens mag staan, dat ek ʼn medewerker mag wees in die koms van U koninkryk. Ek verstaan dat my hele lewe ʼn poging is om daardie unieke plan uit te leef.

Sonder U kan ek dit nie doen nie. Dankie vir die bemagtiging deur U Gees.

U het aan my baie besondere gawes geskenk. My taak is om U en my medemens met daardie gawes te dien.

U Woord leer dat in soverre ek guns aan die minste in die samelewing bewys het, ek dit inderdaad aan U self gedoen het.

Daar is soveel nood rondom my.

Open my oë by vernuwing dat ek sal raaksien waartoe U my roep en waarmee U my vertrou.

Hier is ek Here, stuur my.

Amen.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.