ToekomsVenster: ’n Gebed vir Suid-Afrika

(Foto: Antoinette Meyer)

Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. – Efesiërs 6:18

Gebed is konkreet. Gebed is intelligent en is inhoudryk. Dit is ʼn eerlike gesprek tussen geliefdes.

God het ons lief en ons vir Hom. Ons staan in ʼn vertrouensverhouding. Hy weet alles en ons praat met Hom oor alles.

Ons bid hierdie week met mekaar saam oor ʼn aantal sake. Vandag bid ons vir Suid-Afrika, wat ons gemeenskaplike tuiste is.

Kom ons bid saam:

“Liewe Here, Koning van die Konings en Here van die leërskare, heilig is U naam. Aan U behoort die mag en die majesteit tot in alle ewigheid. Word verheerlik Here, word verheerlik.

Vandag wil ons met U praat oor ons land, Suid-Afrika.

U het dit so gereël dat ons, ons hier aan die Suidpunt van Afrika bevind. Omdat ons glo dat U die lotgevalle van mense in U hande hou en aan toeval en noodlot geen plek gee nie, kan ons nie anders as om te glo dat ons hier ʼn tuiste het nie.

Here, ons deel hierdie spasie, Suid-Afrika met ander mense wat eweneens glo dat hulle hier ʼn tuiste het. Somtyds baklei ons met mekaar oor dit wat ons in gemeen het. Ons verontreg mekaar en knou mekaar af. Ons is onvriendelik en bevooroordeeld teenoor mekaar. Ons weet dit is nie reg nie. Here, vergewe ons.

Vader, U weet alles.

U weet hoe noodsaaklike bronne deur selfsugtige mense vermors en verduister word. U ken die omvang van korrupsie en bedrog in ons land. U weet dat ons verlang na ʼn nuwe seisoen waarin eerlikheid gedy.

U ken die armoede van baie van die mense in ons land. Armoede ken nie kleur nie en armoede diskrimineer nie. Dit slaan soos ʼn siekte toe sonder waarskuwing.

Die dinge wat ons, soos die res van die wêreld beleef het, met name Covid-19, het ons hele wêreld verarm. Ons ekonomie kry swaar.

Asof dit nie genoeg is nie verrinneweer ʼn sinlose oorlog in Oos-Europa die res van die wêreld.

Voedsel en ander pryse het onbekostigbaar geword.

Ons is bekommerd oor môre en oormôre.

Sal U ons asseblief help.

Ons dink in besonder aan die minderbevoorregtes. Hulle kry nou baie swaar.

Here, sal u ons red van politieke opportunisme en oneerlikheid.

Sal U ons red van selfsug gedrewe agendas.

Sal U ons red van vooroordeel en vrees.

Sal U die kleure van hierdie reënboognasie herstel.

In Jesus se Naam bid ons dit.

Amen.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ons mag vra dat ons kan verklaar U is die Koning en U kom weer…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.