ToekomsVenster: ’n Genadige God

(Foto: Pixabay.com)

Miga 4:6-8 – Daardie dag, sê die Here, sal Ek dié wat kreupel is, bymekaarmaak, sal Ek dié wat verstrooi is, vergader, en ook dié wat Ek met rampe getref het. Ek sal die kreupeles die oorblyfsel maak, die siekes ‘n sterk nasie. Ek, die Here, sal op Sionsberg oor hulle heers, nou en vir altyd. Verlate vesting, Sionsheuwel, die beloftes aan jou sal vervul word: jy sal weer heers soos voorheen, Jerusalem sal weer die hoofstad wees.

Waar kry ʼn mens nog so n genadige God soos ons God? “Genade, onbeskryflik groot,” sing dit in my ore.

Genade is eintlik onbetaamlik. Die reg moet sy loop neem. Oortredinge moet gestraf word. Dit is ʼn beginselsaak. Aan die reg moet voldoen word. Ook by God. Niemand word sondermeer oorgesien nie.

Genade is dat iemand anders na vore tree en die straf op Homself neem. Die Onskuldige vir die skuldiges. Die Regverdige vir die onregverdiges. Die Reine vir die onreine.

Daar is verhale van mense wat deur die loop van die geskiedenis so ʼn heldedaad onderneem het. Dit vervul ʼn mens met verwondering en waardering. Dit stel ʼn standaard.

Die verskil is egter dat die Seun van God self toetree om ons van ʼn ewige straf te vrywaar.

Hoe verstaan ʼn mens hierdie genade? Hy verlaat sy Goddelike heerlikheid, kom woon onder mense, assossieer met hulle in hul diepste bestaansnood. Hy doen wonders en tekens en bring die nuwe orde naby.

Die Koninkryk van God word ʼn werklikheid. Kragtens die wedergeboorte word mense uit die duisternis se kloue geruk en in die teenwoordigheid van God gebring.

Hy maak ʼn nuwe begin met mense wat dit nooit kan verdien nie. Sy genade is vriendelik en uitnodigend.

Dit staan soos die verlore seun se pa en wag dat weerspannige kinders, seuns en dogters van God, terugkeer na die Vaderhuis. Is jy al onder Pa se dak?

Ps 130:4 – “Maar by U is daar vergiffenis. Daarom word U steeds gedien.” 

2 Kron. 30:9 – “Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.