ToekomsVenster: ’n Geseënde lewe

‘n Windpomp langs ‘n plaaspad in Vosburg. (Foto: Denis Farrell/AP)

Spreuke 3:1-12 – My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf want dit sal vir jou ‘n lang lewe verseker, dit sal maak dat jy ‘n vol lewe het. Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit ‘n deel van jou lewe. So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn. My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie, want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos ‘n vader doen met sy seun.

Die hele gedeelte is ryk aan betekenis, waarheid, rigtinggewende inligting en raad. Dit sluit boonop aan by wat ons gister met mekaar gedeel het.

Die skrywer, vir alle praktiese doeleindes neem die plek van ʼn mentor, ouer, voog of leermeester in. Hy rig sy onderwysing aan die adres van ʼn jongeling en stel belangrike lewensbeginsels in plek.

Liefde, en trou is deel daarvan. Afhanklikheid van God in alles en in alle opsigte is deel daarvan. Beskeidenheid veral in terme van wat hy dink hy weet is eweneens deel daarvan.

Tong in die kies is ʼn jongeling moes lewenswys. Ai, hulle het antwoorde vir alles en almal. Die jongeling moet sommer van meet af aan nederigheid beoefen.

So ʼn jongmens se lewe is in alles op God gerig. Die teks sê ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Om van die begin af ʼn lewenshouding van gee en barmhartigheid te kweek, bring groot beloftes. Oorvol skure en parsskuipe wat oorloop.

Ja, teregwysing is ook deel van ʼn jongeling se pad. Die Here tugtig die wat Hy liefhet leer die Nuwe Testament ons. Hierdie tug is nie pakslae en na afranseling nie maar deernisvolle opvoeding. Uiteindelik is al hierdie dinge tekens van ʼn intieme en opwindende verhouding tussen vader en seun.

Mag ons almal, ons jongmense in die besonder, veral in ʼn tyd wat deurmekaar en oorvoorspelbaar is van hierdie goeie raad kennis neem en dit in hul lewens integreer.

Die vrug van so ʼn lewe is net te oorvloedig om dit willens en wetens te ignoreer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.