ToekomsVenster: ʼn God wat ons in besit neem


geroep-oproep-natuur

Foto: Milivanily/Pixabay.com

Lees: Esegiël 1-3

Esegiël 1:1 vertel treffend van die gesig waarin die Here vir Esegiël roep: “Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom”, en vers 3 (OAV): “Die hand van die Here het vir Esegiël in besit geneem.”* Die majesteit wat die Here omhul en sy heerlikheid word aangrypend geteken, maar net so duidelik die teikengroep vir wie Esegiël geroep word – Esegiël 2:2: “Ek stuur jou na die Israeliete toe, ʼn opstandige nasie wat teen My in opstand gekom het.” Hulle word ook moedswillig, hardkoppig (2:4), weerbarstig (2:5), koppig en onversetlik (2:7) genoem. Maar dan volg hierdie treffende woorde aan Esegiël (2:8): “Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is, jou kop net so hard as hulle s’n. Soos diamant, harder as rots, so maak Ek jou kop.”

Drie fokuspunte in hoofstuk 3 is waardevol: Chow (Eet) – Chill (Rustig sit by) – Chat (Gesels).
1] Chow: ʼn Aangrypende deel van die gesig is die boekrol wat die Here aan Esegiël gee om te eet (2:9; 3:1): “…dit was so soet soos heuning” (3:3), en “…aan albei kante volgeskryf” (2:10). Nié Esegiël se woorde nie…! – dít wat hy vir Israel moet gaan sê, word aan hom gegee. Lees gerus ook Matteus 10:9.
2] Chill: “Ek het by die ballinge in Tel-Abib aangekom. Hulle het daar in die omgewing van die Kebarrivier gewoon, en ek het sewe dae lank verskrik daar tussen hulle gesit.” (3:15). Esegiël word aangegryp deur die ballinge se omstandighede … dit laat hom sprakeloos.
3] Chat: “Na sewe dae het die woord van die Here tot my gekom: “Mens, Ek het jou aangestel as ʼn wag vir Israel: Jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku” (3:16). Hoofstuk 33:2 & 33:7 bevestig hierdie roeping/ aanstelling: “Mens, jy moet vir Israel sê: Julle sê: ‘Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?’ Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JS vd Merwe ·

Mag ons Skepper ons elke dag nader trek aan Hom, ons God en Vader, van wie ons afhanklik is, of ons swaarkry of ons oorvloed het ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.