ToekomsVenster: ʼn God wat sien, en hoor en afkom

swellendam-02-rene-roux

Foto: René Roux

Lees: Eksodus 3

Eksodus 3 skop af met die vertelling van die Here se openbaring aan Moses in die vlammende doringbos op die berg Sinai. Ons lees dan in vers 7: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ʼn goeie en uitgestrekte land, ʼn land wat oorloop van melk en heuning” en vers 10: “Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”
Hierdie gedeelte verklap nogal heelwat oor dié God wat Moses roep… Hy sien die ellende van die Israeliete; Hy hoor hul noodkrete; Hy neem hul lyding ter harte; en Hy kom af om hulle te bevry!
Wat ook opval is dat die Here reeds na hulle verwys as “my volk”. Nog voordat hulle self ʼn ontmoeting of enige kennis gehad het van die Here, het Hy hulle reeds gekies; reeds as sy eie aangeneem!

In die patroon van sien – hoor – ter harte neem – afkom, is dit treffend dat ons dan die volgende frase lees – vers 10: “Daarom stuur Ek jou(!) na die farao toe sodat jy(!) my volk uit Egipte kan bevry.” Die Here sien – hoor – neem ter harte – kom af… maar stuur dan vir Moses, vir my en jou! Tog is dit verder in hierdie verhaal opvallend dat Moses nog nie lekker deel is van hierdie saak nie; hy sal ʼn paar keer eerder na die Israeliete verwys as “u volk” (kyk 32:11; 33;16), nie “my volk” nie … so asof hulle ellende en noodkrete nog nie in sy hart kom lê het nie, so asof die passie dat hulle bevry sal wees van slawerny wel reeds die Here se passie is, maar nog nie Moses s’n nie.

Raak prakties

Moses plaas wel die Israeliete so op ʼn armlengte wanneer hulle moedswillig is op hul woestyntog, wanneer hulle hul teen die Here verset, dis so asof Moses dan moed verloor met hulle en nie iets met hulle te doen wil hê nie. Tog tree hy vir hulle in wanneer die Here hulle wil verdelg. Dikwels plaas die Here ook mense of gemeenskappe op ons harte – omdat hulle op sý hart is. Op die pad wat jy dan met hulle loop, maak hulle jou ook moedeloos, frustreer hulle onwilligheid om tot bekering te kom, of reg te kom jou … dis dan dat ons so ʼn paar tree weg wil staan en vir die Here wil sê: “Hulle is u volk.” Ondersoek jou hart en passie oor die mense of gemeenskappe wat die Here op jou hart gelê het … hoe maak jy met jou teleurstellings in hulle en hoe maak jy wanneer al jou geswoeg en gesweet nie vrugte afwerp nie?

Iets om oor na te dink

Maar miskien is dit goed so … dat ons sal onthou dat die Here, voordat Hy ons nog geroep het, selfs voordat Hy Homself bekend gemaak het aan die persoon of gemeenskap, reeds hulle nood en ellende ter harte geneem het. Wanneer ons dit in gedagte hou, sal ons dalk langer moed hou en minder teleurgesteld wees met mense; sal ons dalk perspektief hou dat Hy(!) besig is met daardie persoon en gemeenskap.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Charl ·

Here help ons asb in SA dat ons almal U as ons Vader sal erken en dat ons weet U het almal lief wat U eer en erken as die enigste God. Help ons dat ons om te onderskei tussen goed en kwaad en dat ons nie sal toelaat dat slegte mense wigte tussen ons as U kinders sal indring nie.
Amen

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.