ToekomsVenster: ’n Grendel-mentaliteit

(Foto: Jordan Madrid/Unsplash.)

Ek wil graag saam met julle nadink oor ʼn mentaliteit van ingeperk wees.

Toe ek verlede week na die ateljee in Pretoria moet reis was ek skielik effens uit my diepte. Dit is asof die inperking kom nes skop het hier by my en dat die “buitewêreld” met sy dinamiese tempo, sy verwagtinge, verantwoordelikhede en werkslading bedreigend voorkom.

Die gemak en veilige sekuriteit van ʼn eie woonplek word gou ʼn mens se gemaksone. Daar word dikwels gesê die enigste verskil tussen ʼn groef en ʼn graf is die diepte.

Werk, inhoud gee aan jou roeping, passievol leef en om ʼn verskil te maak is nie alleen ʼn Goddelike opdrag nie maar ook ʼn voorreg. ʼn Gebrek aan bewegingsvryheid word ʼn maklike wegkruipplek. “Ek kan nie uitkom nie en daarom kan ek nie ʼn verskil maak nie”. Ons moet daarteen waak.

Daar is ʼn wêreld buite die vier mure van ons ingeperkte bestaan, wat wag op hulp. Die nood lê op die terrein van elkeen van ons se gawes en talente. Ons moet weet waarvoor die Here ons roep en daarmee besig bly.

Hoe diep het die inperking in jou menswees kom insny? Voel jy ook effens bedreig in die wete dat die lewe aangaan en nie stilstaan nie?

Het jy ook nodig om van die grendel-mentaliteit ontslae te raak en vandag reeds inhoud te begin gee aan waarvoor die Here jou bestaan op aarde bestem het? Mag jy leiding en krag ontvang.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here Jesus ek beleef hierdie grendel tyd verkeerd…help my daarmee…in Jesus Naam