ToekomsVenster: ’n Groot toeloop van mense na Jesus toe

gebed-bybel

Foto: Ben White/Unsplash.com

Jesus het toe met sy dissipels teruggegaan na die see toe. ‘n Menigte mense het van Galilea af agter Hom aan gegaan. Ook van Judea af, en uit Jerusalem en van Idumea en van oorkant die Jordaan en van rondom Tirus en Sidon af, het daar baie mense na Hom toe gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. – Lees Markus 3:7

Die onweerstaanbare krag van God se teenwoordigheid. Gaan vertel vir Johannes wat julle sien en ervaar, sê Jesus vir die dissipels wanneer Johannes verneem of Jesus inderdaad die Een is.

“Lammes sien, dowes hoor, melaatses word gereinig, dooies word opgewek, besetenes word bevry en die Evangelie word aan mense verkondig”. Merktekens van God se nuwe hoofstuk in sy op weg wees met die mens.

Wat die wet onmagtig was en is om te doen, doen Jesus. Hy leef die wet in die kragveld van die Gees. Hy voltooi en vervul die wet. Die wet is goed, dis wat mense daarvan gemaak het en steeds maak wat die probleem is. Hoe beleef jy Jesus se teenwoordigheid?

Daar is wonderlike verhale van herlewing in die geskiedenis van die kerk ook in Suid-Afrika. Die herlewing van 1860 spoor ons aan om God te vertrou vir ʼn nuwe tyd van geestelike ontwaking en lewe. In sulke tye gebeur waarvan ons hier lees.

Mense stroom na Jesus. Hulle kom van oral. Hulle ontsien geen moeite nie. Hulle soek die teenwoordigheid van God op. Die kerkbanke staan nie meer leeg nie, die lofliedere weerklink, die vrug van veranderde lewens tree na vore.

Siekes word versorg en armes word gevoed. Inisiatief word aan die dag gelê om van hierdie wêreld ʼn beter plek te maak. Die vrug van die bekering is geil en ryp op die land.

Het jy al gebid vir herlewing? Kan jy massas mense jouself voorstel wat vroegdag by die kerk aankom omdat hulle wil seker maak dat daar plek in die gebou is?

Ons luister weer na die Skriflesing. Begin verlang na ʼn nuwe aanraking van God deur Sy Gees. Bid die woorde van die Psalmdigter. “Here ons het gehoor. Doen dit weer. Doen dit weer”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan ·

Ja sal dit nie fantasties wees as Kerke weer stampvol is nie. Soos die byeenkomste van ‘n sekere prediker nie ?

Dominee Jaco ·

Sal dit nie wonderlik wees as kerke en dominees uit hul pad sal gaan om vir mens te bid nie. Toe ons deur ‘n moelike tyd gegaan het,het die dominee ‘n lys v teks verse opgestel om lidmate te vermaan oor hul kerklike bydraes en die ouderling het gese as ons bydrae nie verhoog nie mag ons nie nagmaal gebruik nie en moet ons liewer as lidmate bedank. Die dominee het gese hy is nie opgelei om vir mense in nood te bid nie. Daarom ds J loop jou kerk leeg…

Frank ·

Ai Dominee Jaco, dis tragies! Maar dit gaan al meer en meer so in baie van die gemeentes.
So, wat behoort jy te doen? Maak seker jy weet hoe jy ‘n ware kerk behoort te lyk (Nederlandse Geloofbelydenis Art 29) , en as jou kerk nie so lyk nie, dan gaan SOEK jy ene, moenie opgee nie (NGB Art 28). Jy raak nie kerk-los nie. En maak seker uit die Woord wat die pligte van die kerkraad is en hoe ‘n dominee behoort op te tree. Rig ‘n skrywe aan die kerkraad en boekstaaf jou klagtes uit die Woord. Hulle MOET dit hanteer tydens ‘n vergadering en terugkom na jou toe.
En bid voortdurend.

Marthie ·

Die kerk is buite die kerk se mure. Ek bid dat die kerk se deure elke dag sal oopstaan, sodat dit die plek van hulp is vir die wat honger is, hartseer is, hulle wat diensbaar wil wees vir n uur in n besige program. Die plek waar kinders veilig en kan voel. ‘n Plek waar ‘n gebedskamer is, as jy stilte nodig het, of iemand nodig het wat vir jou kan bid. Meeste kerke se deure is Sondae oop vir ‘n preek of boodskap. Na 2 ure word dit gesluit….en is toe vir die week. Die kerk moet regtig terug na die mense toe, wees wat Jesus in die week gedoen het. Weg beweeg van geld, geboue, Sondae se getalle en tradisies. As ek en jy ‘n verskil vandag in iemand se lewe gemaak het, dan was jy kerk. Kerk is nie vol kerkbanke nie, maar kerk is daar waar jy iets van God se opdrag uitgevoer het.

Dáái ene.. ·

Eerstens baie dankie vir hierdie stukkie. Ek wens ook so baie dat kerke 24/7 kan oopstaan vir, aanbidding, waar mens ernstig met God kan gaan praat en veilig voel… ‘n veilige hawe waar mens weer rustig kan word en tot besinning kan kom. Dit gaan net moeilik wees as mense kom om daar te wil slaap. Maar dit is seker waar mens se respek en eerbied vir die Here dan inkom en dan gaan mense dalk nie daarso slaap nie. Ek hou van waar dit sê “Die wet is goed, dis wat mense daarvan gemaak het en steeds maak wat die probleem is.”
Dan laastens… Ek bly kyk na ‘lammes sien’ en vashak daar… Ek dink dit moet wees loop. Die dominee sê dit op die klankgreep ook so maar dit klink nie reg nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.