ToekomsVenster: ‘n Groot toeloop van mense na Jesus toe

see-en-son

Foto: Pexels/Pixabay.com

Jesus het toe met sy dissipels teruggegaan na die see toe. ‘n Menigte mense het van Galilea af agter Hom aan gegaan. Ook van Judea af, en uit Jerusalem en van Idumea en van oorkant die Jordaan en van rondom Tirus en Sidon af, het daar baie mense na Hom toe gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. Weens die gedrang het Hy vir sy dissipels gesê om vir Hom ‘n skuitjie reg te hou sodat die mense Hom nie vertrap nie. 1Hy het baie mense gesond gemaak, sodat almal wat die een of ander siekte gehad het, Hom oorval het om aan Hom te raak. As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: “U is die Seun van God!” Maar Hy het hulle baie uitdruklik belet om bekend te maak wie Hy is. – Markus 3:7-12

In hierdie teksgedeelte lees ons van die onweerstaanbare krag van God se teenwoordigheid. Wanneer Johannes vra of Jesus inderdaad die Een is, sê Hy vir sy dissipels hulle moet hom gaan vertel wat hulle alles sien en ervaar. Dis ongelooflik: lammes sien, dowes hoor, melaatses word gereinig, dooies word opgewek, besetenes word bevry en die Evangelie word aan mense verkondig.

Dit alles is tekens van God se nuwe hoofstuk in die pad wat Hy met die mens stap. Hy doen wat die wet nie kon doen nie.

In die Gees se kragveld leef Jesus die wet uit. Hy voltooi die wet. Die wet is immers goed; dis wat ménse daarvan gemaak het (en steeds maak) wat die probleem is.

Hoe beleef jy Jesus se teenwoordigheid?

Daar is wonderlike verhale van herlewing in die geskiedenis van die kerk – ook in Suid-Afrika. Die herlewing van 1860 spoor ons aan om God te vertrou vir ʼn nuwe tyd van geestelike ontwaking en lewe. In sulke tye gebeur die dinge waarvan ons hier lees. Mense stroom na Jesus. Hulle kom van oral en ontsien geen moeite nie. Hulle soek die teenwoordigheid van God op. Die kerkbanke staan nie meer leeg nie, die lofliedere weerklink, die vrug van veranderde lewens tree na vore. Siekes word versorg en armes word gevoed. Inisiatief word aan die dag gelê om van hierdie wêreld ʼn beter plek te maak. Die vrug van die bekering is geil en ryp op die land.

Het jy al gebid vir herlewing? Kan jy jouself voorstel hoe daar massas mense is wat vroegdag by die kerk aankom om seker te maak hulle kry plek in die gebou?

Kom ons luister weer na die Skriflesing. Begin verlang na ʼn nuwe aanraking van God deur Sy Gees. Bid die woorde van die Psalmdigter. Roep uit: “Here, ons het gehoor! Doen dit weer! Doen dit weer!”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.