ToekomsVenster: ’n Helder lig op ons lewens

ligtoring_4_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Ons gesels oor die lewe en in besonder dit wat “nog oor” is. Dit alles teen die agtergrond van ʼn Carpe Diem ingesteldheid, ʼn ingesteldheid wat inderdaad in die Bybel gerugsteun word.

Ek wonder of jy gister se oefening gedoen het en hoe jy daaroor voel?

Wanneer ʼn mens met hierdie waarhede gekonfronteer word, is daar verskeie argumente wat ʼn mens kan aanvoer waarom die saak jou nie raak nie.

  • Jy mag redeneer dat daar nog baie tyd is.
  • Jy mag redeneer dat die tyd verby is en dat dit nou geen verskil gaan maak as jy ernstig raak oor roeping en die sin van jou hier wees nie.
  • Jy mag redeneer dat daar nou belangriker dinge in jou lewe is en dat wanneer jy eers gevestig is, jou sekuriteite agter mekaar het, jy hieraan sal aandag gee.
  • Jy mag selfs selftevrede wees en jouself op die skouer klop oor wat jy sou gedoen het.
  • Jy mag redeneer dat jy jou deel gedoen het en dat ander mense nou moet toetree.
  • Jy mag selfs sê dat jy nie gevra het om “hier” te wees nie en nie belangstel in al hierdie dinge nie.

Hopelik redeneer jy nie dat dood die einde is en dat dit in elk geval geen verskil sal maak nie.

Daar is talle verskillende argumente wat ʼn mens kan aanvoer om verby hierdie onderwerp te kom, maar die regte een is slegs: “Here, leer my om my lewensdae so deur te bring dat ek U en U bedoeling met my lewe sal ken”.

Ek wonder waar jy op die trajek van nadenke oor lewens- of skeppings doel verkeer, hoe ernstig jy jou uniekheid opneem en of jy daadwerklik glo dat God jou vir ʼn seisoen soos hierdie bedoel het.?

Toeval speel geen rol in die lewe van ʼn gelowige nie behalwe, “toe val die lig” soos somtyds gesê word. Mag die lig helder skyn in ons lewens.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.