ToekomsVenster: ’n Klop op die skouer


Foto: Juanita Badenhorst.

Johannes 5:29 – “Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”

Ons is dikwels baie krities teenoor onsself. Daar kan verskeie redes hiervoor wees.

Sommiges het ʼn valse sin van nederigheid.

Ek het so groot geword. Ek is altyd daarop gewys dat ’n mens nie moet “grootkop” kry nie.

Die prestasies in my lewe is selde gevier.

Die teregwysing en waarskuwing was onmiddellik daar.

“Onthou, jy maak bitter min verskil in hierdie lewe.

Bly nederig.”

Uiteraard is nederigheid, beskeidenheid, ’n vrug van die inwonende Gees van die Here.

Opgesmuktheid en aangeplaktheid is aaklig, en ’n mens sien dit ’n myl vêr.

Realisme is egter iets anders. Van tyd tot tyd is dit gepas om aan jouself erkenning te gee en dit selfs te geniet.

Het jy hard gewerk hierdie jaar? Gee jouself ’n klop op die skouer.

Het jy goed presteer? Gee jouself ’n veertjie in die hoed.

Was jy suksesvol? Bederf jouself met ’n lekker stuk wortelkoek. Koop vir jouself ’n mooi kledingstuk, hê jouself ’n slag lief, glimlag vir jouself.

Jy is ’n wenner, en jy mag dit dankbaar vier sonder om aanmatigend en opruierig te wees en ander mense aanstoot te gee. Sonder om jou sukses te adverteer en ʼn klein buiginkie te maak wanneer mense jou salueer. Net doodgewone, beskeie erkenning van en teenoor jouself.

Nie veertien dae se feesviering nie, maar ’n oomblik van terugsit en glimlag. Jy mag maar.

Diep in jou hart weet jy immers – alles, alles is genade: Onverdiende guns alleen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.