ToekomsVenster: ’n Klub vir ware here

(Argieffoto)

“Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” – 1 Korinthiërs 6:19 (AFR 53)

Suid-Afrika is ʼn land geteister deur geweld. Verkragting, misbruik, aanranding en selfs moord op vroue is nie onbekend nie. Hoe ʼn sogenaamde Christelike land die pad so ver byster kon raak, is onverstaanbaar. Tog is geweld teen vroue en kinders ʼn realiteit en iets waaroor ons behoort skaam te kry.

Ons is geneig om die vinger na mense aan die anderkant van die treinspoor te wys en onsself te verontskuldig. Dit gaan egter nie die toets van die praktyk deurstaan nie. Die onverkwiklike misbruik vind onder alle mense plaas.

Mans veral sal moet bykom wat hierdie saak betref.

Vroue is, net soos manne, beelddraers van die lewende God. Hulle word eweneens geroep om die Koninkryk van die Here op aarde te vergestalt en te verkondig.

Vroue staan op geen terrein terug nie. Hulle is ewe bekwaam en ewe gesog as enige manspersoon.

Dat vroue so verniel word, is tragies en oortreders wat onbekeerd daarmee voortgaan sal hulself nie voor die troon van God kan verontskuldig nie.

Vroue speel ʼn belangrike rol in die Bybel, trouens, ʼn vrou het aan die Verlosser van die wêreld geboorte geskenk. Elke persoon wat hier lees is sy of haar lewe aan ʼn vrou te danke.

Vroue behoort op die hande gedra te word. Die geskiedenis bewys hoedat vroue, kaalvoet oor die Drakensberge, die pad na ʼn nuwe toekoms gekloof het.

Ek sien ʼn groot advertensie bord met die woorde: “Gentlemans’ Club” en ʼn foto van ʼn skamele geklede vrou daarop. Dat dié betrokke vrou dalk nie met wysheid optree deur haar so ten toon te stel nie, mag so wees. Dit gee egter aan niemand die reg om vroue op hierdie wyse te na te kom nie.

Wat is dit wat gevoed word deur advertensies soos hierdie? Ek sukkel om die woord “gentleman” en die advertensie bymekaar uit te bring. ʼn Ware heer tree nie so op nie. Soos hy respek het vir sy eie menswees en liggaamlikheid en dit nie ter wille van finansiële gewin sal uitstal nie, net so vir die vrou.

Manne, vaders, kollegas, sportmanne, ensovoorts moet let op hoe hulle praat, die grappe wat hulle vertel, die name wat hulle gebruik wanneer daar na ʼn dame verwys word.

Vaders moet hul seuns leer om vroue te respekteer. Seuns moet teenoor vroue optree soos hul pa teenoor hulle ma optree.

Manne, ons moet ons getuienis wat hierdie saak betref, helder en duidelik laat hoor.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.