ToekomsVenster: ’n Lewe van vryheid, vreugde en vrede

(Foto: Pixabay)

Daarom sê ek met God se gesag: Moenie langer soos nie-Christene lewe nie. Wat hulle uitdink, is niksseggend; hulle verstand is verduister. Omdat hulle onkundig is en onwillig is om tot bekering te kom, ken hulle nie die lewe wat God gee nie. Omdat hulle nie omgee vir wat reg of verkeerd is nie, gee hulle hulleself oor aan losbandigheid, en beoefen so gretiglik elke vorm van onreinheid. – Efesiërs 4:17-19

Dit is ondenkbaar dat mense willens en wetens sal besluit om in opstand en rebellie teenoor God te lewe. Selfs al redeneer jy dat jy nie in opstand is nie maar dat die van die geloof jou net nie aanstaan nie, is dit steeds rebellie.

God se plan vir jou en met jou is ver verwyder van ʼn lewe van traak-my-nie-agtigheid. Jy is in Christus Jesus uitverkies en dit voor die grondlegging van hierdie wêreld om aan God te behoort. Jy is nie jou eie nie en jou lewe is nie onderhewig aan jou persoonlike grille en giere nie.

Jy, ek, ons is vir God gemaak. Ons is die werk van sy Hande, ons is Beelddraers, Ambassadeurs van die hemel en Verteenwoordigers van God op aarde.

Die teks vertel ons egter dat daar mense is wat met die leuen saamlewe; “ek sal self regkom” redeneer hulle.

Sommige van hierdie mense lewe onverskillig en selfs gevaarlik. Dit is asof hulle God en die lewe uittart.

Vir God kan jy nie wegkruip nie. Hy sal en keer jou keer op keer iewers vas en kom herhaaldelik met die uitnodiging dat jy jou lewe in oënskou sal neem en reg sal besluit. Veral gedoopte mense ontsnap nie van God nie, altans, dis hoe ek glo. Die doop is tog ʼn uitnodiging om die Weg van die Bybel te bewandel.

Jy het eintlik nie ʼn keuse nie. Maak jy die verkeerde keuse betaal jy die prys daarvoor.

Mens kan redeneer dat dit onregverdig is. “God kan my mos nie dwing om Hom lief te hê nie. Wat van my keuse-vryheid. Dit word erg aan bande gelê as ek nie kan besluit wat ek met my lewe wil doen nie”.

Dit is egter onverstaanbaar waarom ʼn mens sou besluit om willens en wetens van God weg te draai. Waartoe Hy ons uitnooi is dan niks anders en niks minder as die lewe self nie.

Hy nooi ons uit tot ʼn lewe van vryheid, vreugde en vrede, ongeag hoe moeilik dinge somtyds kan wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here as ek om my kyk en sien hoe tragies die lewe geword het sonder U…..nooit ooit Here wil ek n sekonde sonder U wees nie…..my gebede vir my geliefdes om te kies terwyl daar nog tyd is…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.